RIVERSDAL NUUS - Reën is soms 'n groot gelykmaker, veral as die ovaalbal betrokke is. Maar deurdringende reën, wat vir 'n groot deel van Saterdag 1 Junie in Riversdal uitgesak en die speeloppervlak van die Riverville-stadion glad en kol-kol modderrig gemaak het, het nie juis veel van 'n impak op Riversdal Blues se spelpatroon gehad nie.
Die tuisspan het ná 'n aanvanklike stadige begin homself reggeruk en die besoekende All Blacks met 37-10 gelooi.
Die rustydtelling was 10 - 3 in die Blues se guns.
Dis veral in die tweede helfte wat die Blues beheer oorgeneem en die besoekers se doellyn met mening aangeval het. Toe het dit sommer ook drieë begin reën.
'n Laat drie het darem verseker dat die All Blacks dubbelsyfers kon haal.
Vir die Blues het sy losskakel Reagan Riddles weer uitgestaan en die besoekers met sy taktiese skopwerk gereeld op die agtervoet gehad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’