ALBERTINIA NUUS - Rangers het Saterdag 21 April in 'n klipharde SWD Presidentsligawedstryd op hul tuisveld behoorlik harde bene teen hulle buurdorp, Riversdal Blues gekou.
Die Rangers wen naelskraap met 12-10 voor 'n volgepakte stadion. Die wedstryd was teleurstellend met te veel swak balhantering in die agterlyn. Rangers het vanuit die staanspoor die krane probeer oopdraai, maar die Riversdallers het dit nie toegelaat nie.
Die tuisspan moes alles in hul vermoë doen om die Blou Poue te verhinder om punte aan te teken.
Blues se senter, Jaco Arendse, het amper met 'n skepskop na die pale geslaag, wat vir die tuisspan katastrofies sou wees. Daarna het die losskakel, Chadwin Paulsen met twee kanse pale toe verbrou kort voor die eindfluitjie blaas.
Rangers se losskakel, Keanan Tarentaal, was egter op sy stukke en het twee pragdrieë gedruk, waarvan hy een verdoel het; die enigste speler wat vir sy span punte kon aanteken. Vir Blues A het Austin Sefoor en Jaco Arendse drieë gedruk.
Wilfred de Koker word in sy spore gestuit. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent
Blues se jong B-span het hulle wedstryd gemaklik en met pragtige hardlooprugby met 27-0 gewen. Wilbur Januarie het in die doodsnikke van die wedstryd die bal onderskep en byna 40 m gehardloop vir sy drie onder die pale en ook gesorg vir 'n bonuspunt. Wilbur Januarie, Deon van Eeden, Delano Jacobs en Willem Hendricks (kaptein) het drieë gedruk.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'