SLANGRIVIER NUUS - Na hul pak slae verlede week teen Black Lions van Thembalethu se A-span toe Arrows met 3 - 17 verloor het, het die plaaslike span Saterdag 21 Mei in hul tuiswedstryd teen Black Lions van Klein-Brakrivier 'n naelskraapse oorwinning behaal.
Arrows het hulle ondersteuners tot in die doodsnikke laat asem ophou voor hulle daarin kon slaag om dié tweede ronde wedstryd met 27 - 24 te wen.
Die rustydtelling in die SWDRU Eersteliga-Wes-wedstryd was 24 - 15 in die besoekers se guns.
In hul eerste wedstryd in Klein-Brakrivier het Arrows gemaklik geseëvier en dit was vanuit die staanspoor duidelik dat die besoekers die bordjies wou verhang. Die tuisspan het egter na rustyd voorlangs begin domineer en sodoende hul vlugvoetige agterlyn meer balbesit verskaf.
Goeie verdediging aan beide kante het gesorg dat die wedstryd deurgaans wipplank gery het. Met Black Lions met 24 - 22 voor het Arrows egter in die laaste drie minute op hulle doellyn geboer.
Die besoekers se damwal het in die laaste minuut meegegee en het Arrows met 'n losgemaal die wenpunte met 'n drie in die hoek aangeteken.
Dit was by verre die tuisspan se beste vertoning vir die seisoen.
Vir Arrows het Benito Pieters (senter), Leonard Manuel (heelagter), Eugene Michaels (flank) en Timothy van Wyk (agsteman) elkeen 'n drie gedruk om die bonuspunt te verseker.
Franco Booysen (skrumskakel) het die ander punte met twee doelskoppe en een strafskop aangeteken.
Vir Hungry Lions het Riaan Scheepers (linkervleuel), Shane Vaughn (senter) en Bugan Booisen (losskakel) elk 'n drie aangeteken.
Scheepers het ook al drie drieë verdoel en met 'n strafskop geslaag.
In die voorwedstryd tussen die B-spanne het die tuisspan 'n wegholoorwinning van 31 - 3 behaal wat vier drieë ingesluit het. Die rustydtelling was 19 - 3.
Vir die tuisspan het John Michaels (skrumskakel), Breyton Davids (senter), Charlton Baartman (slot) en John-Lee Hartnick (senter) elkeen 'n drie gedruk. Michaels het met drie strafskoppe geslaag, terwyl Tyrone Lotz (losskakel) Baartman se drie verdoel het.
Timothy van Wyk, Arrows agsteman druk die drie wat sy span se oorwinning verseker het.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'