RUGBY NUUS - Die SWD Arende het hul opmars in die SA Beker-reeks met ’n oortuigende oorwinning van 57 - 22 oor die Grens-Bulldogs in Oos-Londen op Saterdag 14 Maart voortgesit.
Hoewel die eindtelling gemaklik lyk, moes die Arende eers ’n taai eerste helfte oorleef voordat hulle ná rustyd beheer van die wedstryd geneem het.
Grens het die besoekers vroeg onder druk geplaas. Die Arende het eerste punte aangeteken met ’n strafdrie nadat Sivu Mabece met ’n geel kaart afgestuur is.
Grens se losskakel, Isiphe Mbini, het kort daarna met ’n strafdoel geantwoord. Tiaan Pretorius het vervolgens in die hoekie gaan druk, maar Grens het vinnig teruggeslaan met drieë deur Sibusiso Lali en Hlumelo Zitha, albei verdoel deur Mbini.
Net voor rustyd het SWD egter weer momentum gekry toe Janus Venter en Gunther Janse van Vuuren oor die doellyn gaan kuier het, terwyl Hlumelo Pantyo tussendeur vir Grens punte aangeteken het.
Ná ’n energieke eerste helfte, was die telling teen rustyd 26 - 22 in SWD se guns.
Na rustyd het die Arende se voorspelers begin oorheers. Gideon van Wyk het twee vinnige drieë gedruk wat die grondslag vir SWD se sterk tweede helfte gelê het.
Die plaasvervangers het ook ’n groot rol gespeel. Kyle Cyster het ’n drie bygevoeg, Pretorius het sy tweede drie van die wedstryd gedruk en Fred Zeilinga het met akkurate skopwerk die telbord aan die rol gehou.
Grens se dissipline het egter na drie geel kaarte begin verbrokkel.
’n Laat drie deur Matthew Sekele, gevolg deur Zeilinga se vyfde doelskop, het die oorwinning beklink.
Na twee rondes is die SWD Arende vierde op die punteleer met sewe punte.
Hulle reis Saterdag 21 Maart na Gqeberha waar hulle om 17:00 teen die OP Olifante speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’