STILBAAI NUUS - Die Windpomp Sjerrie-bergfietsuitdaging se marathondag het Saterdag, 4 April, plaasgevind, waar ryers die pragtige natuurskoon van Stilbaai op roetes van 60 km, 28 km en 14 km kon beleef.
Jan Heenop van IALA het 'n uitdagende, maar toeganklike roete uitgelê wat deelnemers van alle vlakke kon geniet en voltooi.
Vroegoggend het Julie-se-Baai gegons van bedrywighede toe deelnemers hulle gereed gemaak het vir die wegspring om 08:00. 'n Digte mislaag het boonop 'n spookagtige, maar besonderse atmosfeer geskep.
In die 60 km-wedren het Juan van Zyl eerste oor die eindstreep gegaan in 'n tyd van 02.03:58. Dusty Day het tweede geëindig, gevolg deur Jannes Auret in die derde plek.
Chantélle Bosch was die eerste vrou wat klaargemaak het, met 'n wentyd van 02.39:29. Linke Oosthuizen het tweede geëindig en Leah van Niekerk derde.
Christiaan Human het die 28 km-wedren gewen in 'n tyd van 53:51, terwyl Ana Janse van Vuuren die eerste vrou was met 'n tyd van 1.15:25.
Die 14 km-wedren is gewen deur Deon van Zyl in 34:59, met Ninke van Zyl as die eerste vrou oor die eindstreep in 38:09.
Die verrigtinge word Sondag, 5 April, voortgesit met 'n toeskouer-vriendelike sirkelroete by Julie-se-Baai wat om 08:00 begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’