Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die plaaslike tafeltennisklub het Saterdag 26 Oktober die Riversdal-tafeltennis ope in die Thusong-sentrum aangebied.
Sowat 40 deelnemers van Riversdal, Mosselbaai, George en Knysna het aan die verskillende afdelings vir seuns en meisies, naamlik o.13, o.15, o.18 en senior mans en dames deelgeneem.
Die toernooi, die hoogtepunt van die klub se jaarlikse aktiwiteite, is amptelik deur rdl. Margaret Jakobs geopen. "Dit is goed om te sien hoe baie ouers hul kinders se sport ondersteun," het sy gesê.
Van die hoogtepunte van die dag se spel was die skittervertoning van Xhaiden Williams van George-klub. Die 13-jarige speler het in al die afdelings ingeskryf en het in die halfeindstryd teen senior Eden-speler Heinrich Pedro, ook van George, te staan gekom.
Die toernooi is met die ondersteuning van Hessequa-munisipaliteit se departement toerisme en gemeenskapsontwikkeling aangebied. Hulle het ook versnaperings en middagetes verskaf. Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool het hul tafeltennistafels tot die klub se beskikking gestel. Hierdie tafels word ook deur die klub vir weeklikse oefensessies gebruik.
Kyk 'n video hieronder:
Die klub het in 2013 ontstaan en het tans sowat 15 lede van verskillende ouderdomme. "Die spelers doen goed en verskeie van hulle is in die Eden-span opgeneem wat aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het," het Philip Hendricks, die voorsitter gesê. Die klub neem ook deel aan die Eden-tafeltennisliga wat gespeel word tussen die klubs van Riversdal, Mosselbaai, George, Oudtshoorn en Knysna.
"Vanjaar het Riversdal ongelukkig die knie teen Knysna en George gebuig, maar Mosselbaai maklik geklop," het hy gesê. Die wedstryd teen Oudtshoorn het nog nie plaasgevind nie.
"Geen ledegeld word gehef nie en die klub voorsien toerusting aan jong spelers wat aansluit. Ons sal graag wil sien dat die ledetal groei," het Danie Cronjé, sekretaris gesê.
Die spanne oefen Maandae en Woensdae tussen 16:30 en 20:00, mits die Thusong-sentrum beskikbaar is.
Wenners, van links: Whinley Bruiners (o.15) en (o.18); Monicia Joubert (o.13); Hayley Theron (senior dame); Xhaiden Williams (o.13) en (o.15); Bradwin van Heerden (o.18); Garshen Williams (senior mans).
Lees 'n vorige artikel hier: Tafetennistoernooi sorg vir opwinding
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'