Update
HEIDELBERG NUUS - Vanjaar se jaarlikse sportdag in Heidelberg, wat die afgelope twee jaar nie kon plaasvind nie, is ter ere van 'n Slangrivier-legende, wyle Gert Boezak gevier.
Boezak was 'n bekende boukontrakteur en gemeenskapsaktivis, asook die pa van Gerald Boezak, wyksraadslid en lid van die burgemeesterskomitee, wat as gasspreker opgetree het.
Die verrigtinge het gedurende die naweek van 28 en 29 Oktober plaasgevind. Die JF Neumann Memorial Congregational Church is die begunstigdes van die geld wat geïn is.
Die organiseerders het 'n groot hupstoot vanaf Errol Thompson van Kaapstad gekry met 'n skenking van die Asie van Niekerk en Minnie Geldenhuys trofeë vir die rugby- en netbalwenspanne.
Dit was die 14de aanbieding van die gewilde sportnaweek sedert dit deur Christopher September en sy kollegas in 2007 van stapel gestuur is.
Behalwe van die rugby wat gewoonlik die groot trekpleister is, was daar ook netbal, potspel, domino's en veerpyltjies. By die motorskou kon 32 motors besigtig word en die sterkmanskou waar deelnemers hul krag kon vertoon deur verskeie voertuie te trek, het beslis die oë laat rek.
Saterdag se verrigtinge was deur 'n pretloop ten bate van kankerpasiënte vanaf die skouterrein tot by die Duivenhoks-gemeenskapsaal voorafgegaan. Dit word jaarliks deur die Wynland Circle of Friends onder leiding van Vennito van Niekerk aangebied.
Die sportdag is Saterdag met 'n paar pretafloswedlope afgesluit.
Die plaaslike SSK-span het die rugbyafdeling gewen deur Swartland-munisipaliteit se Koringarespan in die eindronde gewen het. Die netbalwenners was die Island Vipers.
Die groep was Christopher September (tweede van regs) se steunpilare met die organisering van die sportdag. Van links staan Lennie Lekay, Gerald Boezak, Roger Williams, Thomas Meyers, Mervyn Zanma, Beatrice February en Faren February.
Ander uitslae:
- Beste optog - Kielie Bouers
- Beste dissipline - SSK
- Beste netbalspeler - Chené Manho
- Beste rugbyvoorspeler - Willmark Joseph
- Beste agterspeler - Thearlo Hartnick
- Algehele beste speler - Stephano Baron.
De spelers was deel van die SSK-rugbyspan wat as die rugbykampioene gekroon is.
Errol Thompson (heel regs) oorhandig die Asie van Niekerk en Minnie Geldenhuys wisseltrofeë aan Christopher September, hooforganiseerder van die sportdag. By hulle staan Fren February, Adri Abrahams en Thompson se vriendin, Cathy Beukes.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'