RIVERSDAL NUUS - Die Ultra Trail Sleeping Beauty-bergwedloop wat op Saterdag 5 April hier plaasvind, bied aan atlete en stappers vier roetes om van te kies.
Vir die meer ervare atlete sal die 65 km- en 40 km-roetes 'n lekker uitdaging bied, terwyl die minder ervare atlete en stappers waarskynlik die 20 km- en 10 km-roetes gaan benut.
Só sien die roetes daar uit:
Die 40 km- (ongeveer 1950 m elevasie) en 65 km-roetes (ongeveer 2750 m elevasie) begin by Windhoek-gasteplaas aan die voet van Sleeping Beauty en gaan dan bergpaadjies toe, insluitend die langverlore Kristalkloof- en Rooiwaterspruit-wandelpaadjies wat al vir 'n dekade of twee toe is en nou weer toeganklik is.
Vir al die vasbyters wag daar natuurlik die ikoniese Sleeping Beauty-piek met sy ongelooflike mooi uitsig as bederf. Daar is afsnytye op hierdie twee roetes.
Die 10 km- en 20 km-roetes gaan nie berg toe nie, maar gaan in die MTO-plantasie rondom Korentepoortdam hardloop. Dis paadjies wat maklik onder die voete sal voel en is nie te tegnies nie.
Daar is so 250 m se elevasie op die 10 km en 450 m op die 20 km. Dis perfek vir families wat wag vir hul mense wat langer afstande hardloop, en ook vir mense wat die bergwedloop nog bietjie uittoets. Daar is geen afsnytyd nie, so flinke stappers is welkom.
Meeste van die wedloop se roete gaan oor Cape Nature en MTO-grond, maar daar is wel stukke oor privaatgrond wat mense nie sal kan b gebruik as dit nie op die dag van die wedloop is nie.
Aangesien hierdie wandelpaaie weer oopgestel is, kan mense weer permitte gaan koop by Cape Nature om te gaan stap: https://booking.capenature.co.za/booking/Grootvadersbosch - en dan kies mens ‘Walk Activity’ en dan ‘Sleeping Beauty Trail’. Dis net R50 per persoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’