Gallery Update Video
STILBAAI SPORT NUUS - Die 42ste touchies-toernooi se Stilbaai-been het op Donderdag 26 Desember by die Goukou-riviermonding plaasgevind.
Die toernooi is elke jaar een van die hoogtepunte op die vakansiekalender by dié gewilde stranddorp en vanjaar was geen uitsondering nie.
Van vroeg af het toeskouers van heinde en verre en toegerus met strandstoele, hoede en sonbrandroom begin opdaag. Die wat vroeg opgedaag het kon naby die strand parkeer, maar laatkommers moes selfs van anderkant die brug af stap.
Fotogalery: 42ste Stilbaai Touchies toernooi
Die organiseerders, Afrihost Hot Summer of Touch se karavane was vroeg al opgeslaan. Sommige spanne soos die plaaslike Titans wat uit hoërskoolseuns uit Hessequa bestaan, was van die eerstes wat saam met hul spanbestuurder Grant Riddles (Hessequa uitvoerende burgemeester) opgedaag het. Kort voor lank het die ander professionele spanne wat ook aan die ander touchies-toernooie langs die Wes-Kaapse kus deelgeneem het, begin opdaag. 'n Klomp spanne wat uit vakansiegangers en ander belangstellendes bestaan het ook ingeskryf. Baie van hulle kon nie aan spesifieke spandrag uitgeken word nie en sommiges het sommer met kaal bolywe die stryd aangedurf.
Kyk 'n video hieronder:
Die idee was om 09:00 te begin omdat 'n stormsterk wind in die namiddag sou opsteek. Teen die tyd dat die wedstryde 'n halfuur later begin het, het die borge se vlerkvlaggies al langs die bane wat in die sand afgemerk is, sterk in die wind gewapper.
Die toeskouergetalle het vinnig aangegroei en mense het dig gepak om elke baan gesit. Talle het in halfmaantentjies teen die wind en sand probeer skuil. Ma's, pa's, oumas en oupas, boeties en sussies het almal kom kyk. Party families het entjies weg onder flappende tente rondom groot koelbokse stelling ingeneem. Eenkant teen 'n duin het 'n dame met 'n handdoek oor haar kop selfs 'n bietjie ingedut. Daar was ook nie 'n tekort aan mooi meisies wat die spanne uitbundig aangemoedig het of sommer net gesit en op hul mooiste probeer lyk het nie.
Daar is koeldrank en roosterkoek verkoop, maar nêrens was 'n koffiestalletjie in sig nie. Gelukkig het die biertent uiteindelik teen elfuur vir die dors toeskouers lafenis gebied.
Die dag se kompetisies is die tweede agtereenvolgende jaar deur die Rising Samurai Warriors gewen. Die reekswenners is die Et'sons Warriors van Strand wat reeds van hul titel verseker was na hulle vir die kwarteindronde gekwalifiseer het.
Die wenner van die uitdaagkompetisie op Stilbaai was Kia Targo. Team Composure het die uitdaagreeks en die dag se trofee ingepalm. Die Titans het as die junior wenners uit die stryd getree.
Organiseerder Grahame Bobrow het sy tevredenheid met die dag se aktiwiteite uitgespreek: "Elkeen het sy deel om van die dag 'n klinkklare sukses te maak, gedoen."
Die Lions se biertuin is goed ondersteun en alles het rustig en ordelik verloop. Volgens Lions president Manie Rood is hulle gelukkig met die bedrag wat uit die drankverkope gemaak is. Dié geld word vir gemeenskapsprojekte aangewend.
"Die touchies het hier begin en ons is trots daarop om die tradisie voort te sit deur te help om dit aan te bied," het Riddles gesê. "Dit lok duisende mense waarvan baie net vir die dag hierheen kom om die wedstryde by te woon. Dit is goed vir ons besighede."
Hoewel die plaaslike polisie deurentyd sigbaar teenwoordig was, is geen voorvalle volgens stasiebevelvoerder kapt. Johan van Tonder aangemeld nie.
Die Rising Samurai Warriors was baie opgewonde oor hul oorwinning. Foto's: Tisha Steyn
Soms moet mens maar skuil teen die wind.
Die polisie het deurentyd toesig gehou. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel: Stilbaai touchies 2019 'n groot sukses
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'