TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Inperking, afsondering, afstandbeheer en alle ander voorsorgmaatreëls as teenpole teen Covid-19, kon die afgelope week begeesterde entoesiaste nie weghou van die jukskeibane nie. Inteendeel, was daar hernude energie by elke oefening.
Daarom dan ook dat jukskeispelers verlede Saterdag soos een man opgeruk het na Riversdal.
Die eerste ligawedstryde van die 2020/21 jukskeiseisoen het 'n aanvang geneem. 'n Aantal spelers was nie beskikbaar nie vanweë ander pligte, gevolglik is slegs twee B-spanne en vier C-spanne ingeskryf. Selfs die karige inskrywings kon die entoesiasme nie demp nie.
Ten einde die kompetisie doelmatig te laat verloop, is besluit om al die spanne teenmekaar te laat meeding. Dit was egter 'n ietwat ongelyke wedywering. Die B-span van Hartenbos, wat sy gewone deurwinterde viertal ingeskryf het, het korte mette met al die ander spanne gemaak en het gevolglik nie 'n enkele wedstryd verloor nie.
Trouens, die B-span het met 'n laagste punt van 10½ uit 15 en 'n voltal van 15 (drie skofte) loshande bo-aan die puntelys geëindig.
Die finale uitslae ten spyt, was die wedywering tussen die verskillende spanne uitdagend en behoort die seisoen nog steeds sy eiesoortige verrassings op te lewer.
Die finale uitslae was soos volg (punte in hakies):
B-afdeling:
- Hartenbos (63½);
- Riversdal (45).
C-afdeling:
- Riversdal C1 (43½);
- Hartenbos (42);
- Mosselbaai (21);
- Riversdal C2 (18).
Die volgende toernooi word op Saterdag, 5 September op die Hartenbosbane gespeel. Sosiale klubs wat spanne wil inskryf in A-, B- of C-afdelings word hartlik uitgenooi om so te maak.
Spelers van Riversdal, Mosselbaai, Hartenbos en George tydens die ligakompetisie op Riversdal.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'