ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike duiweklub het Vrydag 10 Augustus sewe elektroniese klokke ontvang wat deur die nasionale Lotto gefinansier is.
Die klubhuis was volgepak in afwagting van verteenwoordigers van SANPO (Suid-Afrikaanse nasionale posduiforganisasie), wat onder leiding van hul president, Fadiel Hendricks, met Lotto vir die finansiering gereël het.
Chris Pietersen, voorsitter van Albertinia-duiweklub het die afvaardiging welkom geheet. Die reëls wat op die klokke van toepassing is, is voorgelees en Hendricks het verduidelik hoe die proses verloop het om uiteindelik by hierdie geleentheid te kom.
Die nuwe klokke is 'n groot aanwins vir die lede. Hier kan gesien word wat die verskil tussen die ou staatmakerklok en die nuwe elektroniese klok is. Spesiale sagteware moet gebruik word, asook ringe vir die duiwe wat soos 'n strepieskode werk. Wanneer die posduif die wedvlug voltooi het, stap hy oor 'n paneel wat die ring skandeer en die tyd van aankoms aandui en op die stelsel se databasis aangebring word.
Meer inligting is beskikbaar by SANPO se webtuiste by www.sanpo.co.za vir hierdie minder bekende sportsoort.
Die nuwe elektroniese klokke.
Groot geld is in dié sport betrokke. Verlede jaar het twee Suid-Afrikaners, Mark Kitchenbrand en Samuel Mbiza R5 miljoen betaal vir 'n posduif met die naam Golden Prince. Dan is daar ook jaarliks die Million Dollar Pigeon Race wat in Suid-Afrika gehou word. Volgende jaar sal dit die 23ste resies wees en vanjaar se prysgeld was R1,8 miljoen.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'