'n Aantal van 113 spelers van regoor die land het ingeskryf, onder andere Kaapstad, Hermanus, George, Plettenbergbaai en hierdie jaar was daar weer spelers vanaf Johannesburg.
Dit is opmerklik dat die Lutherse kerk gholfdag homself gevestig het op die Riversdal gholfklub se kalender, maar ook onder die spelers, omdat die spel vir die dag goeie kompetisie inhou het.
Die klubkaptein, mnr. Faffa Marais, het tydens die prysuitdeling die kerk geprys vir die gholfdag wat elke jaar op 'n puik manier deur hul reëlingskomitee georganiseer word. In sy toespraak het hy spesifiek genoem dat dit die dag is wat die grootste aantal gholfspelers na Riversdal gholfklub lok en kan dit dus beskou word as die grootste gholfdag in Riversdal self. Vanjaar jaar was mnr. Anton Swart van JC Slagtery en Max Baise Bottelstoor die hoofborg. Hy het tydens die prysuitdeling genoem dat dit die manier is waarop hy graag wil terugploeg vir God se ryke seëninge aan hom. Sy ouers, mnr. Johnny en mev. Martha Swart het spesiaal van Kaapstad gekom vir hierdie geleentheid.
Die dag se spel is gewen deur mnre. D. Fortuin en J. Oelson. In die tweede plek was dit die jonge mnr. Brendon Marais en mnr. Barend Marais en in die derde plek mnre. Andrew Michaels en Tos Michaels. Tydens die prysuitdeling is mnre. P. Herling en P. Jansen aangewys as die bes geklede span. Die toeskouers was behoorlik getrakteer met die humor van mnr. Koos van Rensburg terwyl hy verskillende pryse opgeveil het. Na die dag se verrigtinge is almal teenwoordig bedien met verskillende soorte potjiekos.
Sondagoggend het die gemeente 'n dankseggingsdiens gehou en die gasprediker was pastoor Calvin Vilander van Johannesburg, wat die gemeente aangespoor om nederig te bly. Verskillende lof- en aanbiddingsgroepe het aan hierdie diens deelgeneem.
Volgens die organiseerders kan hul sonder twyfel sê dat daar sterk groei rondom die gholfdag is, omdat die spelertal elke jaar aansienlik vermeerder. Die spelers wat van buite Riversdal kom, het ook vermeerder. "Een ding is verseker, daar is reeds groot belangstelling vir volgende jaar se gholfdag omdat dit die vyfde jaar is van die Lutherse kerk gholfdag en dit beloof om 'n groter byeenkoms te wees as vorige jare."

Pastoor J. Grispe, Anton en Adrie Swart, asook Fiona Grispe.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal | Hessequa nuus'