HESSEQUA GHOLFNUUS - Stilbaai se gholfers het heel gepas op Saterdag 11 September die tradisieryke Daneelbeker op hulle tuisbaan verower met 'n brutotelling van 607.
In die proses het hulle ook sommer die Mooiuitsigtrofee met 'n nettotelling van 599 gewen.
Riversdal en Bredasdorp was gesamentlik tweede met 635 houe. Die Stilbaaispan het bestaan uit Rigardt van Zyl, Neil Davis, Johann Swanepoel (spankaptein), Duane Deutchen, Hansie Steyn en Misha Loots. Johann Swanepoel was die speler van die dag met 'n telling van 148.
Die ander deelnemende klubs was Heidelberg en Swellendam. Riviersonderend het onttrek.
Die eerste toernooi het plaasgevind in 1935 op Heidelberg. Die oorspronklike doel van die toernooi was om kleiner klubs wat nie kon meeding in groter kompetisies nie, ook die geleentheid te gee om kompeterend te wees. Stilbaai het in 1994 begin deelneem.
Daar word elke jaar 6 klubs genooi om deel te neem. Elke span bestaan uit 6 lede waarvan die 4 beste bruttotellings oor 36 gate in ag geneem word om te bepaal wie die wenner van die Daneelbeker is.
Spankaptein Johann Swanepoel is baie trots op sy mede-Stilbaaiers se vertoning op die baan. "Welgedaan span! Julle hou Stilbaai-gholfklub se naam hoog!"
Van links is Rigardt van Zyl, Neil Davis, Johann Swanepoel, Duane Deutchen en Hansie Steyn. Misha Loots was afwesig. Die Daneelbeker (links) en die Mooiuitsigtrofee (regs) behoort vanjaar aan die Stilbaaispan.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'