HESSEQUA KRIEKET-NUUS - Die 2018/19 SWD-krieketseisoen het die naweek op Riversdal en Stilbaai afgeskop met die aanvang van die T20-kompetisie.
Die spanne van Heidelberg United, Riversdal en Slangrivier moes Saterdag 29 September op Riverville sake uitspook, maar Slangrivier het nie opgedaag nie. Hulle het ook nie Sondag vir hul wedstrydverpligtinge op Melkhoutfontein opgedaag nie.
Heidelberg United het albei hul wedstryde, Saterdag teen Riversdal en Sondag teen Melkhoutfontein oortuigend gewen. Laasgenoemde het Sondag hul wedstryd teen Riversdal weer redelik gemaklik gewen.
United teen Riversdal
United het in hul wedstryd teen Riversdal die loot gewen en besluit om te kolf. Hulle het danksy 'n puik vertoning deur aanvangskolwer, Berthal September met 79 vanaf 42 balle met 11 viere en 3 sesse, die stewige totaal van 144 almal uit in 19.2 beurte aangeteken. Net Corbin Swartbooi met 18 en Enzo Lodewyk met 17 kon dubbelsyfers behaal.
Vir Riversdal het Chriswan Slingers met 3/8 na 2.2 beurte die beste met die bal gevaar. Die ander paaltjies is deur Mervin Prins met 2/18 na 4 beurte, Granwin Scholtz met 2/17 na 2 beurte, Paul Cupido met 1/12 na 3 en Byron Esau met 1/15 na 3 beurte platgetrek.
Riversdal moes 145 in hul toegelate 20 beurte aanteken, maar is vir 56 lopies almal uit, terug in die kleedkamer. United wen met 88 lopies. Net Lendle Evertse met 18 lopies, Cupido met 12 en Prins met 11 kon enige weerstand bied.
Vir United het Lodewyk met 3/4 na 2 beurte, Jaques Thyse met 2/8 na 3 beurte, Elrick Pretorius met 2/13 na 3 beurte, Andrew Pieters met 1/5 met 1 leeg na 2 beurte en Swartbooi met 1/13 na 3 beurte die paaltjies ingeoes.
United teen Melkhoutfontein
In hul wedstryd Sondag teen Melkhoutfontein het die tuisspan die loot gewen en United ingestuur om te kolf. Dit was toe nie 'n wyse besluit nie en het die besoekers die skaflike totaal van 151 vir die verlies van sewe paaltjies in hul toegelate 20 beurte aangeteken.
Lodewyk het met 60 lopies het die aanslag saam met Garth Pieterse met 44 gelei om die goeie totaal daar te stel. Shirgené Swartbooi met 15 en Danielo du Preez met 15 het ook goed gekolf.
Vir Melkhoutfontein het Jonathan Michiel met 3/30 na 4 beurte die beste met die kolf gevaar. Hy is goed deur Bevan Gelant met 1/12 na 4 beurte en Hyron October met 1/24 na 2 beurte bygestaan. Die tuisspan moes 152 lopies in hul 20 beurte aanteken, maar kon net 103 lopies almal uit in 19.3 beurte aanteken. United het ook 5 straflopies aan Melkhoutfontein afgestaan toe Lodewyk tydens sy kolfbeurt op die baanblad gehardloop het. Dít kon ook nie hul pakslae van 48 lopies afweer nie.
Vir Melhoutfontein het Reagan Deutschen met 34 lopies die beste met die kolf gevaar. Hy is goed deur Michiel met 21, October met 20 en Timmy Plaatjies met 10 lopies ondersteun.
Vir United het Du Preez met 3/18 na 4, Pretorius met 2/20 na 4, Jaylin Opperman met 2/14 na 3 en Pieterse met 2/20 na 3.3 beurte die paaltjies platgetrek.
United dring na die kwarteindstryd teen die wenner van groep D deur.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'