KRIEKET NUUS - Krieket Suid-Afrika (KSA) het verlede Saterdag in samewerking met KFC die 40ste bestaansjaar van die gewilde Mini-Krieketprogram by die Six Gun Grill Rekreasie-sportgronde op Oudtshoorn, of die REC soos dit voorheen bekendgestaan het, met oorgawe gevier.
Die KFC Mini-Krieket Mega-fees is vir die eerste keer in die geskiedenis van die program, op dieselfde dag regoor KSA se provinsiale affiliasies gehou.
Die dag se opkoms het rekords gebreek met meer as tienduisend kinders van oor die land wat aan die dag se verrigtinge deelgeneem het. Meer as 'n duisend wedstryde is gelyktydig gespeel.
Volgens Genevieve Anthony, SWD KFC Mini-Krieket se koördineerder, het sowat 584 spelers en 158 afrigters van 46 skole aan die dag se verrigtinge deelgeneem.
"Ek is baie tevrede met hoe die dag afgeloop het veral as 'n mens die aanvanklike weerstoestande in ag neem. Gelukkig het die weer opgeklaar en het daar deurentyd 'n lewendige atmosfeer geheers. Ons is baie trots en bevoorreg om deel te kan wees van hierdie geskiedkundige gebeurtenis en dit is duidelik dat die KFC Mini-Krieketprogram in die provinsie in 'n gesonde toestand is," het Anthony gesê.
KSA se massadeelnamebestuurder, David Mokopanele, het in 'n verklaring Anthony se sentimente gedeel oor die belangrikheid en betekenis van die Mini-Krieket se 40ste bestaansjaarvieringe en die impak wat die program op die lewens van die kinders het.
"Daar is geen twyfel dat mini-krieket 'n groot impak op die lewens van kinders en gemeenskappe regoor Suid-Afrika het. Ons doel is om geleenthede te skep vir alle Suid-Afrikaanse kinders van verskillende agtergronde om die sportsoort te beoefen wat ons almal ondersteun en liefhet.
"Ek wil graag ons vennoot, KFC, bedank vir hul toewyding en volgehoue ondersteuning in die ontwikkeling van die spel oor die jare. Ook 'n groot dankie aan ons mini-krieketvrywilligers, met wie ons daarin geslaag het om die grootste en langste ontwikkelingsprogram in die vasteland te laat groei."
Andra Ferreria Nel, KFC se bemarkings-bestuurder, het op haar beurt gesê dat hulle trots is om 'n vennoot in krieket te wees wat die jeug die geleentheid bied om die spel te speel en hulle gelyke speelvelde te verskaf om hul drome te verwesenlik.
"Vandag se KFC Mini-Krieket Mega-fees was 'n goeie voorbeeld van hoe sport 'n platform skep om die speelveld vir ons kinders gelyk te maak en gemeenskappe regoor die land te verenig," het Nel beklemtoon.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'