In hul wedstryd Saterdag, 1 November teen Riversdal het hulle in dié SWD Promosiewedstryd op hul tuisveld met 143 lopies verloor. Die besoekers het die loot gewen en besluit om te kolf en was na vier beurte een paaltjie plat toe Granwin Scholtz met 15 en die telling op 23, uitgehaal is. 'n Tweede paaltjievennootskap van 103 tussen Evan Prins met 93 en Stanton Prins met 59 (13x4) het egter hul beurt stukrag gegee en het hulle 235 lopies, almal uit in 39 beurte opgestapel. Net twee ander kolwers, Mervyn Prins met 19 en Ruhein Prins met 11 kon dubbelsyfers aanteken.
Vir die tuisspan het Danielo du Preez met 2/46 na 8 beurte, Damian Schietekat met 2/59 na 10 met 1 leeg, Garth Pieterse met 2/36 na 7, Ramsey Noudt met 1/25 na 6 en die kaptein, Andrew Pieters met 1/20 na 3 beurte paaltjies ingeoes. Goeie veldwerk het bygedra dat twee kolwers uitgehardloop was.
Die tuisspan moes 236 lopies teen 4.72 lopies in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar kon net 'n skamele 92 lopies in 20.1 beurte aanteken. Net Pieters met 28, Leon Hartnick met 14 en Garth Esau met 13 kon dubbelsyfers behaal. Vir Riversdal het Jason van Rensburg die beste met die bal gevaar en 4/14 na 4 beurte ingeoes. Hy is goed deur Donny Pietersen met 3/21 na 6, Gladwin Joseph met 1/9 na 2.1 en Ruhein Prins met 1/32 na 4 beurte ondersteun.
In hul wedstryd in die T20 kompetisie Sondag, 2 November het Sussex, 'n premierligaspan, hul met ses paaltjies gewen. United het die loot gewen en besluit om te kolf. Hulle kon egter net 111 lopies vir die verlies van 8 paaltjies in die toegelate 20 beurte aanteken. Slegs Jaques Thyse met 36, Garth Esau met 33 en Richard Roberts met 10 kon weerstand bied. Vir Sussex het Graig Thanna met 2/8 na 4 met 1 leeg, Reginald Olckers met 2/13 na 3 die meeste sukses met die bal behaal.
Sussex het die wenteiken van 112 na 13.4 beurte vir die verlies van een paaltjie behaal. Die openningskolwers, Jeona met 69 en Bilam Samsoodien met 33 nie uit nie, het die totaal op 111 geneem voordat Jeona met net een lopie kort van die wenteiken uitgevang is. Garth Pieterse met 1/20 na 1.4 beurte het die enigste skade aangerig.
United het, ten spyte daarvan dat ongeveer die helfte van hul ervare spelers nie kon speel nie, steeds hul verpligtinge met 'n groep jong en onervare spelers, waaronder die bloedjonge Jodan (JP) van Niekerk (9), 'n graad 3-leerder aan De Waalville Primêre skool sy debuut vir die klub gemaak het. Wat merkwaardig is, is dat hy saam met sy pa, Garth Esau, in dieselfde span gespeel het.
United speel Saterdag, 8 November teen Kwanonqaba op Mosselbaai in die Promosieliga, terwyl hulle Sondag, 9 November teen NMMU in George in die T20 kompetisie speel.

JP van Nieker het op 9-jarige ouderdom sy debuut vir Heidelberg
United teen 'n premierligspan, Sussex van Mosselbaai gemaak.
'We bring you the latest Heidelberg, Hessequa nuus'