RIVERSDAL NUUS - United-krieketklub van Heidelberg is in 'n wegwedstryd weereens met die kous oor die kop huis toe gestuur na hul neerlaag teen Riversdal.
Die tuisspan het Saterdag 24 Februarie met hul aartsvyand afgereken in hul tweede ronde SWDK Promosie B-stroom ligawedstryd. Sodoende het hulle ook die gesogte Leonard Hurling-wisseltrofee vir die sesde keer ingepalm.
Die tuisspan het met 54 lopies geseëvier.
Die besoekers se kaptein, Danielo du Preez het die loot gewen en besluit om die Dallers in te stuur om te kolf.
Dit het na 'n goeie besluit gelyk toe hulle die aanvangskolwers, Marchello Wessels en Mervin Prins terug in die kleedkamer gehad het met die telling op 21/2 na 6.3 beurte.
Die enigste noemenswaardige vennootskap van 51 lopies was om die vierde paaltjie tussen Donny Pietersen met 37 (5x4) en Byron Esau met 52 (6x4) nie uit nie.
Esau het 'n paar noue ontkomings vroeg is sy beurt gehad. Hulle was ook die enigste kolwers wat dubbelsyfers kon behaal en is hulle almal uit vir 140 lopies na 35 beurte.
Vir United het Andrew Pieters die beste met die bal gevaar en het hy 4/18 met 1 leeg na 5 beurte ingepalm.
Hy is goed deur Jaques Thyse bygestaan wat 3/22 met 2 leeg na 6 beurte platgetrek het, terwyl Enzo Lodewyk met 1/10 na 4 beurte en Garth Pieterse met 1/20 na 4 beurte ook hul deel bygedra het.
Goeie en ratse veldwerk het 'n uithardloop bewerkstellig om die tuisspan tot minder as 150 lopies te beperk.
United moes 141 lopies in hul toegelate 50 beurte aanteken om vir die eerste keer dié gesogte trofee omhoog te hou, maar het hul topkolwers hulle lelik in die steek gelaat.
Die besoekers het beide hul aanvangskolwers, Garth Pieterse vir net 1 en Berthal September vir 7 (1x4) met die telling op 9 verloor.
United se enigste skaflike vennootskap van 49 om die vyfde paaltjie was tussen Pieters met 24 (3x4) en Thyse met 20 (2x4), voor Thyse op 'n ongelukkige wyse met been voor paaltjie betrap is.
Slegs Shirgené Swartbooi met 12 nie uit nie en wat die enigste 6 van die wedstryd ingesluit het, kon ook dubbelsyfers behaal.
Die vreugde is duidelik sigbaar op die spelers van Riversdal-krieketklub se gesigte.
Vir Riversdal het Pietersen aan die begin van die beurt met venynige boulwerk 4/19 met 2 leeg na 7 beurte en Paul Cupido met 4/10 met 1 leeg na 4 beurte die meeste skade met die bal aangerig.
Marvin Kortjé met 2/22 na 4.5 beurte het die ander paaltjies ingeryg om die besoekers vir 'n skamele 86 lopies binne 25.5 beurte uit te boul en hulle 'n bonuspunt te verseker.
Na redelike goeie vertonings sedert die begin van die tweede rondte kan United egter net hulself blameer vir die verloor en sal hulle meer op hul kolfwerk moet fokus as hulle graag hul laaste drie wegwedstryde van die seisoen wil wen.
Hulle kan egter nie meer die halfeindronde haal nie, hoewel Riversdal wel 'n kans staan.
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'