STILBAAI NUUS - Die groot rooi brandweerwa van Hessequa-brandweerdiens het Vrydag 18 September voor Paideia Inclusive Education Centre ingetrek, waar die leerders 'n waardevolle les in brandveiligheid gekry het.
Die besoek is op 'n prettige en praktiese manier aangebied met die doel om die kinders toe te rus met basiese kennis oor wat om te doen indien hulle rook of vuur sien.
Die verskillende groepe het die besoek afgeskop met kort opvoerings oor brandverwante sake. Daarna het Elgirvin Esterhuizen die kinders op 'n eenvoudige en verstaanbare manier verduidelik wat hulle moet doen indien daar 'n brand uitbreek.
Die doel van die besoek was nie om die leerders bang te maak nie, maar eerder om hulle met die nodige kennis toe te rus om in 'n noodsituasie korrek op te tree.
Een van die belangrikste lesse was die "stop, val, rol"-beginsel indien klere aan die brand sou raak. Leighton Marais het dié beginsel daarna prakties aan die kinders gedemonstreer.
Die opwindendste deel van die besoek was egter die praktiese demonstrasie van die brandslang. Elke leerder het die geleentheid gekry om self skuim op 'n denkbeeldige vuur te spuit.
Dit was nie lank nie of van die waaghalsigste leerders het hulle behoorlik in die skuim geniet - 'n belewenis wat die belangrike brandveiligheidsles terselfdertyd pret en onvergeetlik gemaak het.
Met die brandweerdiens se vertrek het die skool elkeen met 'n geskenkie en heerlike rooi kolwyntjie bedank vir hul besoek en die tyd wat hulle aan die leerders bestee het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’