NASIONALE NUUS - Vandag (8 Mei) is dit presies 100 jaar sedert Afrikaans amptelik as landstaal erken is – en die hele land is uitgenooi na die verjaarsdagpartytjie!
Van Pretoria tot die Paarl, van die Bo-Kaap tot Genadendal, gaan die taal se eeufees behoorlik gevier word.
Die feesvieringe skop af in die Bo-Kaap, waar Afrikaans se eerste treë gegee is. Die openingsgeleentheid by die Kasteel van Goeie Hoop beloof om ’n feestelike affêre te wees, met Afrikaans as eregas en verskeie bekendes en kenners wat saam die spreekwoordelike verjaarsdaglint gaan knip.
Later die dag word ’n ikoniese muurskildery in die Bo-Kaap onthul, wat die reis van Afrikaans simboliseer.
Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl bied ook Saterdag ’n hele dag van aktiwiteite aan, insluitend kindervermaak en stalletjies met snuisterye.
Suid-Afrikaners is landwyd verheug oor die mylpaal vir Afrikaans.
Gaireyah Fredericks van die Paarl, die wenner van die Diana Ferrus-prys en die Eugène Maraisprys vir Prosa, sê: “Afrikaans en dan ook Afrikaaps is my hartstaal. Dis die kapsule waarin ek leef en my wêreld in verken. Dit is my identiteit en die voertuig waarin ek die lewe deurvaar.”
Die Diana Ferrus-prys is vernoem na die bekroonde Suid-Afrikaanse digter, skrywer en aktivis, dr. Diana Ferrus, as ’n huldeblyk aan haar buitengewone bydrae tot die bewaring van Afrikaans, gemeenskapsverhale, taalregte en sosiale geregtigheid deur poësie.
TV-aanbieder en skrywer Ingrid Jones, van Kaapstad, glo Afrikaans is ’n leefstyl en ’n lewenswyse. “Taal is ’n beginselbesluit vir my. Mens kies uit beginsel die taal wat jy meesal praat. En myne is Afrikaans. Dit is die waarheid waarin ek staan.”
Dr. Fanie Marais van die Cordis-trust van Pretoria, wat Afrikaans oor 25 jaar bevorder het, sê: “Ek word 82 jaar vanjaar en is so dankbaar om Afrikaans se verjaarsdag as amptelike taal te vier. Ons taal het soveel diepte en daar is soveel om te ontgin. Maar ons moet werk aan die groei.”
Marais het die gedenktrust begin ter nagedagtenis van sy dogter, Mardene, wat in 1989 oorlede is. Die trust deel jaarliks pryse aan skrywers en Afrikaanse taalpioniers uit.
Jopie Koen is ’n onafhanklike teaterpionier in Pretoria wat oor meer as twee dekades Afrikaans in haar Pierneefteater in die Moot, Pretoria, lewendig gehou het.
“Dit is so maklik om met Afrikaans besig te wees en die taal te bevorder. Afrikaans is die bloed in my are, die pols in my hart en die suurstof in my longe. Oor die jare het ek Afrikaans net sterker sien word of dit nou deur musiek, drama of optredes van digters hier by ons teater was. Dit is en bly ’n taal waarin jy kan sing, droom en bid.”
Vir Barry Müller, die kultuurorganiseerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), is die vieringe rondom Afrikaans 100 iets waarvoor hy nou al 10 jaar as kultuurorganiseerder wag.
Hy is so verheug om hierdie een-keer-in-’n-leeftyd gebeurtenis te kan vier. “Ons by die FAK is ongelooflik opgewonde hieroor en het heerlike ongewone vieringe vir Afrikaans 100 soos ’n uitstalling rondom Afrikaanse seëls wat oor 100 jaar verskyn het. Op ’n persoonlike vlak sien ek uit om hierdie opwindende nuwe groeifase van Afrikaans te beleef. Ek is vrek geesdriftig oor Afrikaans se toekoms.”
Willie Jooste, konsertinaspeler en takvoorsitter van die ATKV in Centurion, bevorder al Afrikaans deur sy boeremusiek vir 25 jaar.
“Afrikaans is ’n instrument van ons kultuur wat sovele dinge insluit soos kos, musiek en opvoerings. Afrikaans help ons om hiermee die voertuig van kultuur aan te dryf en om oor grense heen te kan kommunikeer. As ons dit praat en as ons die taal uitleef, soos met Afrikaanse ligte musiek, maak ons die taal nuut. En waar kry jy nou mooier titels vir musiek as in Afrikaanse tradisionele boeremusiek? Dink nou maar aan Ek is mamma se kind-wals of die Warmvat Vastrap. Afrikaans het ’n oorspronklikheid geheel van sy eie.”
Merlyn van der Rheede, die projekbestuurder van die Afrikaanse Taalraad, is veral opgewonde oor projekte wat die Taalraad vanjaar in gemeenskappe kan aanpak soos in die Eersterus-gemeenskap in Pretoria.
“Ons is opgewonde om Afrikaans se amptelike status te kan gedenk. Dit is vir my belangrik dat ons almal deel maak van Afrikaans se groot leefwêreld. Almal se manier om Afrikaans te praat en te leef, is belangrik vir die groei van ons taal.”
Vir al die betrokkenes is Afrikaans 100 nie net ’n fees nie; dit is ’n uitnodiging aan elke Afrikaansspreker om hulle liefde vir die taal te vier en te deel.
Hier is drie prettige maniere om jou liefde vir Afrikaans op die taal se verjaarsdag te wys:
Seëls en Stories: ‘n Unieke uitstalling:
Kom vier jou liefde vir Afrikaans én jou liefde vir seëls. Die Voortrekkermonument se Senotaafsaal bied van vandag tot Sondag, tussen 09:00 en 17:00, ’n unieke uitstalling aan wat die storie van seëls vertel. Gratis.
Skryf ’n liedjie met Skryf’it:
Die FAK bied aan: Skryf’it, ’n splinternuwe liedjieskryfkompetisie wat kreatiwiteit aanmoedig en die rykdom van ons Afrikaanse musiekerfenis vier. Inskrywings maak vandag oop. Meer inligting beskikbaar op www.fak.org.
Vier jou taal met idiome!
Gebruik saam met Virtuele Instituut vir Afrikaans hierdie idiome heeldag om jou taal te vier:
- Dis die blinde sambok (se werk) – Wanneer iemand wat iets verkeerd gedoen het, onverwags self ’n ongeluk oorkom.
- Hy is agterstevoor suinig – Geld bespaar op klein dingetjies en dan baie bestee op onnodige dinge.
- Bietjie baard, maar klipsteenhard – Gesê van ’n geslepe of ervare persoon.
- Beenaf wees op iemand – Verlief wees.
- So ’n bek moet jêm kry – Gesê as iemand sin praat of gevat (snaaks) is.
Kyk hier om Afrikaans se lettertoer te sien:
- Kliek hier vir verjaarsdagvieringe oral: https://afrikaans100.org/
- Afrikaanse vierenge landwyd
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’