ALBERTINIA NUUS - "When the going gets tough, the tough gets going." Dié bekende spreekwoord is beslis vir twee sakelui van die dorp waar.
Marietjie Coetzee het haar gastehuis ongeveer ses jaar gelede geopen. In Februarie hierdie jaar het 'n Gautengse firma wat optiese kabels vir die internasionale internetlyn aan die Tuinroete lê, die gastehuis bespreek en sy was baie dankbaar:
Albertinia is 'n verbyry-dorpie en akkommodasie is nie hoog in aanvraag nie.
Sy was nóg blyer toe hulle voor grendeltyd as firma wat noodsaaklike diens lewer geklassifiseer is en dus met hul werk kon voortgaan. Maar twee dae voor die aanbreek van inperking kry die firma opdrag om alle werk te staak en die gastehuis dringend te ontruim.
"Alles het in 'n oogwink verander," vertel Coetzee. "Toe die laaste voertuig vertrek, het stilte deur die gange gedawer." Die vooruitsigte het donker gelyk.
Amper drie weke later het die situasie weer handomkeer verander. Die firma het laat weet hulle is op pad terug vir die hervatting van hul diens. Coetzee sê sy het kosbare lesse uit die gebeurtenis geleer: "Gebruik die beter tye om 'n noodfonds op te bou, al is dit klein. Bly kalm en positief tydens 'n finansiële krisis en behou jou geloof."
Sy het grendeltyd onder meer gebruik om haar vingers in die grond te kry; gesaai, geplant, gesnoei en instandhouding in en om die huis gedoen. Haar raad aan ander is: "Sien weer klein dingetjies soos boomtakke wat roer en wieg in die wind en duiwe wat bad raak. Kyk met nuwe oë na jou huisgenote, sien kwaliteite raak waarvoor jy andersins nie tyd het nie. Geniet maar die ongewone stilte. Orden jou lewe, ruim op, pak reg, gooi weg, raak ontslae van bagasie, wees verdraagsaam, vergewensgesind, hou uit en hou moed. En moet niks en niemand as vanselfsprekend aanvaar nie."
Peet Coetzee stem saam dat inperking die grootste struikelblok is wat nog op sy pad gekom het. Sy onderneming wat sowat vier jaar gelede begin is, is steeds suksesvol te danke aan maatreëls soos om winkelure so te sny dat alle werknemers steeds 'n inkomste kan verdien.
Hy stel sy klante se veiligheid eerste deur die inperkingsmaatreëls streng na te kom en skenk selfs maskers aan huisgesinne wat dit nodig het.
Hy skryf sy volgehoue sukses aan genade van Bo toe: "Almal het 'n voorsmaak van die swaar tye wat voorlê gekry; doen ekstra moeite nie net vir jouself nie, maar veral vir die mense om jou. Bly positief en bly by die voete van die Here."
Hy glo daaraan om die mense om hom moed in te praat, al dink hy dinge gaan erger word: "Motiveer jou werknemers om soggens met meer geduld te kom werk. Nie almal beleef die inperking met selfbeheersing nie. Frustrasie en kommer oor finansies veroorsaak dat die naels dikwels uit is. Dan moet jy en jou personeel maar uithou en aanhou en verstaan krisistye laat mense op verskillende maniere optree. Moenie in die swaar tyd reken op wins nie. Sorg net vir oorlewing."
Peet Coetzee
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'