RIVERSDAL NUUS - 'n Botsing Saterdagoggend, 25 Junie, tussen drie voertuie op die N2 naby Bali Trading het die lewe van 'n vrou van Roodepoort geëis.
Nie een van die ander insittendes het ernstige beserings opgedoen nie en is net vir skok behandel.
Die bestuurder van die afslaankap BMW, James Westcott van Rosebank in Kaapstad, het op die toneel aan Suid-Kaap Forum vertel hy en sy jong seun was op pad na Wildernis vir 'n visvangekspedisie toe 'n aankomende motor skielik op onverklaarbare wyse uit sy baan geswaai en op hulle afgepyl het.
"Dit het so skielik gebeur dat ek geen kans gehad het om 'n botsing te vermy nie. Die wit Toyota Corolla Cross met twee insittendes het my BMW aan sy regterkant getref, waarna dit van die pad af getol en teen die skuinste tot stilstand gekom het. Dit het alles binne sekondes gebeur."
Westcott sê hy het kortliks met die bestuurder van dié Toyota, Johan Erasmus, ná die ongeluk gesels. "Hy was natuurlik in skok, soos ons almal, maar hy het geen idee gehad hoe sy Toyota in ons baan beland het nie. Ek vermoed hy kon dalk 'n breinfloute (blackout) gekry het."
Die Erasmus-egpaar het glo eers ontbyt by Bali Trading genuttig. Met die indraaislag op die N2 in die rigting van Riversdal het die Toyota in die aankomende baan beland en eers die BMW aan sy regterkant gestamp en toe na links geswaai en die linkervoorkant van Marais Geldenhuys van Riversdal se dubbelkajuitbakkie getref.
Marais sê hy wou nog na regs uitswaai in die aankomende baan na Riversdal om die botsing met die Toyota te vermy, maar dinge het te vinnig gebeur. "Daar was ook te veel aankomende motors op pad na Riversdal en dit sou nog gevaarliker gewees het om in die regterbaan in te swaai."
Marais sê behalwe vir 'n paar kneusplekke het hy ongeskonde uit die ongeluk gekom. "Maar dit lyk of my bakkie dalk afgeskryf is."
Volgens verkeersbeamptes op die toneel is die ander twee voertuie in die betrokke botsing onherstelbaar beskadig.
Die beseerde vrou is uit die Toyota gehaal en na Riversdal-hospitaal geneem, maar is glo op aandrang van haar seun per ambulans na die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai geneem, waar sy later aan haar beserings beswyk het.
Werkers van Hessequa-munisipaliteit was ure ná die botsing nog besig om wrakstukke van die pad te verwyder en die ryoppervlak skoon te vee. Die BMW en Toyota is met insleepdienste na Albertinia geneem.
Die BMW van James Wescott word deur die insleepdiens uitgesleep.
Wrakstukke van die drie voertuie lê gestrooi langs die N2 in Saterdagoggend se ongeluk net buite Riversdal.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'