STILBAAI NUUS - Vir naaste vriende en familie was die feit dat Werner du Toit van Stilbaai as een van die ‘Onthoukokke’ vir kykNet se Kokkedoor-realiteitsprogram gekies was, geen verrassing nie.
Meeste Stilbaaiers sal dalk egter verras wees om hom in Julie op die kassie te sien, aangesien hy meestal op boupersele bedrywig is.
Werner het saam met sy broer en suster by Keurboomsrivier grootgeword waar sy ouers Strandmeer-karavaanpark begin het. Van vroeg het hy reeds in hul winkel gehelp om die wegneemetes vir kampeerders te maak. Sy pa het later die karavaanpark ontwikkel en Werner het hom in die boubedryf gehelp, waar hy van bou-, staal- en loodgieterwerk geleer het, wat steeds vandag sy beroep is.
Na hy twee jaar in België gewerk het, het hy homself in Stilbaai kom vestig waar hy saam met sy meisie en drie honde, Fondant, Fiela en Flooi bly.
Werner sê hy wou nie oorspronklik inskryf vir Kokkedoor nie en het sy inskrwying eers 10 minute voor die afsnytyd ingestuur. “Ek was baie verbaas toe ek gekies is vir die oudisie in Kaapstad. Ek is daar toe ook deur na die volgende rondte waar ek vir die eerste keer ‘n soufflé moes maak,” vertel hy.
Kokkedoor begin op 18 Julie op kykNet, kanaal 144.
• Lees meer in Suid-Kaap Forum en aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'