HESSEQUA NUUS - Verskeie dorpe in die Hessequa-gebied is onder nuwe en verskerpte waterbeperkings geplaas namate druk op water-bronne toeneem.
Die munisipaliteit het bevestig dat verskillende vlakke van beperkings tans geld, afhangende van die erns van die situasie in elke dorp.
Vlak 4-beperkings, die strengste vlak, geld vir Riversdal, Garcia, Vermaaklikheid en Albertinia. In hierdie gebiede mag water slegs vir mens en diere gebruik word.
- Die natmaak van tuine, die afspuit van verharde oppervlaktes, asook die was van voertuie, karavane en bote, word streng verbied.
- Inwoners wat alternatiewe waterbronne soos boorgate of reënwatertenks gebruik, moet dit duidelik sigbaar aandui.
Vlak 3-beperkings is van toepassing in Heidelberg, Witsand en Slangrivier.
- Hier mag tuine slegs een keer per week tussen 18:00 en 19:00 natgemaak word.
- Ewe straatnommers kry Dinsdae geleentheid, terwyl onewe nommers Donderdae toegelaat word.
- Toesig oor tuinslange en die gebruik van emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels word vereis.
In Gouritsmond, Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongens-fontein geld Vlak 2-beperkings.
- Tuine mag twee keer per week natgemaak word binne die vasgestelde tydgleuf, met spesifieke dae vir ewe en onewe straatnommers.
- Die afspuit van harde oppervlaktes bly verbode, terwyl voertuie slegs met emmers gewas mag word.
Ouetehuise, kwekerye en karwasbesighede is by al die vlakke uitgesluit van sekere beperkings, terwyl munisipale dienste - insluitend sportfasiliteite en ander bates - op 'n ad hoc-basis deur die administrasie bestuur sal word.
Die munisipaliteit waarsku dat die situasie deurlopend gemonitor sal word en dat nóg strenger maatreëls ingestel kan word indien waterbronne verder verswak.
Wetstoepassing sal ook toesien dat inwoners aan die regulasies voldoen en streng optree teen oortreders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’