Update
STILBAAI NUUS - Stilbaai-sakekamer, Stilbaai-toerisme en Hessequa-munisipaliteit het op Vrydag 16 Desember saamgespan om besoekers in Stilbaai met 'n verwelkomingspakkie en vriendelike geselsies by Julie-se-baai net voor die brug te verwelkom.
Hessequa se verkeersdienste het 'n padblokkade gehou, maar in plaas van die padwaardigheid van voertuie na te gaan, het die Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, Rachel Wall, voorsitter van die sakekamer, en Mariaan Harris van Stilbaai-toerisme, die dorp se gasvryheid gewys met die oorhandiging van dié geskenkpakkies.
Hulle is bygestaan deur raadslede, lede van die sakekamer en Piet Paling van die toerismekantoor.
Die verbaasde besoekers is almal met 'n glimlag deur die padblokkade en het duidelik hierdie inisiatief geniet.
Wall het die versekering gegee dat die besighede gereed is om aan die besoekers 'n uitstekende koopervaring te bied en dat daar heelwat is om vanjaar na uit te sien.
Hulle het ook 'n vraelys, besigheidsgids en noodnommers op die sakekamer se portaal gelaai. Die adres is www.sb4u.co.za en besoekers word aangemoedig om hierdie portaal te besoek.
Besoekers wat die vraelys voltooi het, staan 'n kans om aan die einde van die vakansie 'n kontantprys van R1 000 te wen.
Riddles het op sy beurt die vakansiegangers in Stilbaai welkom geheet en gesê die dorp en sy mense sien uit daarna om hulle vakansie so aangenaam as moontlik te maak.
Stilbaai verwelkom ook die troeteldiere.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'