STILBAAI NUUS - Stilbaai-sakekamer het op sy onlangse algemene jaarvergadering 'n nuwe sakemodel aan sy die lede voorgehou om die besigheidsgemeenskap die toekoms in te neem.
Die huidige struktuur is saamgestel uit vrywilligers, wat hul vryetyd beskikbaar stel aan die gemeenskap. Die bestuurslede word jaarliks verkies en die konstitusie maak nie voorsiening vir langtermyne nie.
Die bestuur is 'n mengsel van besigheidseienaars in die formele sowel as informele sektor, sowel as vrywilligers (afgetredenes) en die organisasie is nie formeel geregistreer as 'n besigheid/NWO nie.
Covid-19 het 'n verandering in die denkproses van die bestuur meegebring en hulle het gaan kyk na die waarde van besigheidsgeoriënteerde sambreelorganisasies en hulself afgevra wie hulle nou eintlik bedien ... is dit net die lede? Hoe voeg hulle waarde toe en hoe meet hulle sukses?
In hierdie oorgangsproses moet jy jouself so posisioneer dat jy nog steeds gewaardeer word, gerespekteer word en invloed uitoefen indien die organisasie wil bly voortbestaan. Uiteraard sal daar diversifikasie van inkomstestrome moet plaasvind.
In hul navorsing het hulle na verskeie modelle gekyk met spesifieke aandag aan die operasionele struktuur, kliëntebasis, finansiële model en die rol van tegnologie.
Die voorstel wat Rachel Wall, voorsitter van die sakekamer, namens die bestuur vir goedkeuring voorgelê het, is om die naam te verander na Stilbaai-besigheidsforum en om voort te gaan met die registrasieproses om 'n nie-winsgewende organisasie met geaffilieerde lede te word. Verder is goedkeuring gevra dat die huidige bestuur herkies word met die spesifieke doel om die registrasie proses af te handel en dan ook as die eerste uitvoerende komitee te dien.
Dit is eenparig deur al die lede teenwoordig aanvaar.
Volgens Rachel is hulle hier met baanbrekerswerk besig en behalwe dat hierdie proses sal meebring dat die wyer gemeenskap hierby gaan baat vind, posisioneer dit die Stilbaai-besigheidsforum om die veranderende besigheidslandskap met vertroue tegemoet te gaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’