HESSEQUA NUUS - Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, in samewerking met Hessequa-munisi-paliteit, en die seniorklubs het op Maandag 28 Augustus hul jaarlikse sportdag op Riverville-sportterrein in Riversdal aangebied.
Dit was 'n pragtige sonskyndag en na die spele toepaslik met 'n gebed geopen is, het die sewe spanne trots hul verbymars gedoen.
Die spanne wat deelgeneem het was Soetfontein van Melkhoutfontein, Olives, Golden Oldies en Siyazama, al drie van Riversdal, asook Rivervalley van Slangrivier, Heidel van Heidelberg en Kingdom al die pad van Albertinia af.
Die sewe spanne het meegeding in 'n 500 m-stap, 4x100 m-aflos, 100 m-Dress Up-wedloop, jukskei, rugbybalgooi, doelskiet en 'n balaflos.
Dat hierdie 'n ernstige affêre is, was baie duidelik en die kompetisie was straf, maar aan die einde moes die verdedigende kampioene, Rivervalley van Slangrivier, afstand doen van die Wisely-trofee toe hulle deur Soetfontein van Melkhoutfontein afgestof is.
Albert Cloete (middel), voorsitter van Soetfontein-seniorklub, by Mev. Hessequa, Joan October, en Mnr. Hessequa, David October. Foto's verskaf
Daarna is 'n Mnr. en Mev. Hessequa gekies en die wenners was Joan en David October van Soetfontein.
Die dag is afgesluit met die bekeroor-handiging. Soetfontein was eerste met Slangrivier se Rivervalley tweede en Heidel van Heidelberg derde.
Almal was dit eens dat hierdie 'n feestelike dag met vrolike musiek was terwyl ou vriendskapsbande versterk is en heelwat nuwe vriende gemaak is.
Albert Cloete (middel), voorsitter van Soetfontein-seniorklub, by die trofeewenners van die seniors se jaarlikse sportdag.
Albert Cloete van Soetfontein het al die deelnemers en organiseerders bedank vir 'n baie spesiale dag en hy doen 'n beroep op alle seniors om by die onderskeie klubs in hulle dorpe aan te sluit en sodoende aktief te bly.
'n Spesiale woord van dank het gegaan aan maatskaplike ontwikkeling wat aan elke deelnemer 'n geskenkpakkie met vrugtesap, water en 'n soetdingetjie gegee het.
Lede van Soetfontein van Melkhoutfontein se seniorklub in gesellige luim.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’