STILBAAI NUUS - Die Gemeenskapsaal in Melkhoutfontein was pragtig versier vir Soetfontein Senior Burger Klub se Erfenisdag vieringe Woensdag 25 September.
Op elke tafel was 'n item uit toeka se dae en die lede en gaste het sommer met die intrapslag staaltjies van vervloë dae gedeel.
Sharon Davids en haar span het die een na die ander heerlike eetding tafel toe gebring en die sop en roosterkoek is opgevolg met wors en pap met 'n heerlike sousie waarna vis- en lewerkoekies gevolg het.
Die poeding en koek daarna het gladnie teruggestaan nie en dit is afgespoel met soet moerkoffie uit 'n blikbeker.
Albert Cloete, voorsitter van die Soetfontein Senior Burger Klub het 'n pleidooi gelewer dat die erfenis kultuur behoue moet bly en dit kan slegs gedoen word deur dit van geslag tot geslag oor te dra.
Al die groeperinge in die land het sy unieke kultuur, maar daar is tog raakpunte en elke kultuur moet gerespekteer word deur alle landsburgers, want uiteindelik is dit almal se geskiedenis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’