Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Hoërskool Albertinia het vroeg hierdie maand 'n skenking van 40 blokfluite ontvang.
Volgens me Joanne de Waal, graad 5 onderwyser hoop sy dat dit die leerders sal inspireer om 'n musiekinstrument te kan bespeel.
"Ons doen een kunsdissipline elke kwartaal. Kwartaal een was visuele kunste, kwartaal twee is musiek prakties en teorie, dus sal die blokfluit die kinders se prakties wees," sê sy.
Gedurende kwartaal drie gaan die kinders dans en die cha-cha leer en kwartaal vier is drama. "Hier gaan die kinders hul eie scripts skryf en dit dan opvoer."
Sy vertel dat die kinders baie opgewonde daaroor is om die blokfluit te leer speel.
"Soggens voor skool kan jy hoor hoe hulle buite die hekkie oefen."
De Waal leer die kinders hoe om die blokfluite uitmekaar te haal, hoe om dit skoon te maak, waar die vingers moet raak vir die verskeie note en ook hoe om jou blokfluit op te pas.
Die kinders is in hul skik as hulle 'n noot regkry. Mens kan dadelik sien hulle is trots daarop om die blokfluit te blaas.
Kyk 'n video hieronder:
Joanne de Waal, onderwyser en ook sanger van formaat (tweede ry, middel) staan by haar leerders met hul blokfluite. Foto: Mariska Visagie
Vorige artikel: So fluit-fluit skool toe
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'