RIVERSDAL NUUS - ’n Middeljarige man van hier, na bewering ’n plaaslike sekerheidsbeampte, is op aanklag van poging tot moord aangekla.
Die insident het volgens beskikbare inligting op Donderdag 26 Maart plaasgevind.
Volgens ao. Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word ’n saak van poging tot moord ondersoek na ’n voorval op Donderdag 26 Maart.
Spies noem verder dat verslae wat tans beskikbaar is, daarop dui dat die plaaslike polisie omstreeks 21:25 op ’n skietvoorval op die N2-snelweg naby die Stilbaai afdraai gereageer het.
“Met hul aankoms het die lede twee mans met ’n voertuig wat as gesteel by Mfuleni aangemeld is, gevind.
’n 55-jarige man is op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem en het hy reeds in die plaaslike landdroshof verskyn.” sê Spies.
Daar word wyd bespiegel dat die beskuldigde, ’n bekende in die plaaslike sekuriteitsbedryf, blykbaar die reg in eie hande geneem het waartydens hy voertuie aftrek en deursoek.
Volgens nie-amptelike inligting, het die beskuldigde op die betrokke aand soos bo aangemeld, ’n “verdagte” op die N2 afgetrek en die voertuig deursoek.
Die verdagte het na bewering weggehardloop waartydens die beskuldigde vele skote geskiet het en een skoot hom glo in die rug getref het.
Navraag is aan die Wes-Kaapse nasionale vervolgingsgesag gerig, maar nog geen terugvoering is ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’