RIVERSDAL NUUS - Die groot hoeveelheid welkome reën wat Vrydag 7 September in die Hessequa-streek en veral in die Riversdal-omgewing uitgesak het, het ongelukkig ook ’n nadraai vir sommige sportlui gehad.
Die distrikspaaie, asook heelparty paadjies op die plase waar die Baleia Wines-bergfietsren en -veldwedloop Saterdag 8 September sou plaasvind, was só nat en modderig dat die byeenkoms nie kon plaasvind nie.
Verskeie ander soortgelyke byeenkomste wat gedurende die naweek sou plaasvind, is ook as gevolg van die reën en gepaardgaande sneeu en ysige weersomstandighede gekanselleer.
Die Hessequa-streek tussen Riversdal en Albertinia, waar die reën net betyds was om graan- en kanola-oeste gedeeltelik te red, het van Vrydag tot Saterdagoggend tussen 40 en 60 mm reën gehad. Die organiseerders het Vrydag deur die dag die roetes herbesoek wat toe reeds plek-plek moeilik begaanbaar was met ’n voertuig en met nóg reën wat vir Vrydagaand voorspel was, is besluit dat die byeenkoms vir eers nie gaan plaasvind nie.
Die Goukourivier, waaroor ’n 30 m lange brug vir beide die bergfietsryers en drawwers gebou is, het Vrydag reeds met 30 cm gestyg. Die roete wat die minste skade gehad het, was die 6,5 km-roete vir drawwers en diegene wat wou, kon dit Saterdagoggend aanpak.
Swaar reën gedurende dié byeenkoms se debuutjaar in 2016 het veroorsaak dat heelwat fietsryers se fietse beskadig is. Die Baleia Wines-byeenkoms sou vir die derde agtereenvolgende jaar plaasgevind het.
Inligting oor vanjaar se byeenkoms wat nie plaasgevind het nie, sal met e-posse, die webtuiste www.baleiawines.com en Facebook gekommunikeer word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'