HESSEQUA NUUS - 'n Kind se matriekafskeid is 'n unieke geleentheid en moet onvergeetlik wees.
Só redeneer meeste ouers en knyp oë toe vir die uitgawes van goed soos mooi uitrustings en spesiale vervoermiddels. Daar is egter ook toenemend teenstand teen die hoë koste van die glansgeleenthede.
Suid-Kaap Forum het die mening van 'n paar ouers van matriekleerders gevra wat hulle benadering is.
Leoni le Roux, wie se dogter Le-Rina in Hoërskool Heidelberg is, reken matriekafskeidfunksies het beslis vir die gemiddelde ouer te duur geword, maar groepsdruk speel steeds 'n baie groot rol in die kinders se keuses. Sy is van mening dat kinders nie so mededingend moet wees nie en eerder 'n goedkoper uitrusting wat ook in die toekoms na formele geleenthede gedra kan word, moet kies. Dit moet steeds spesiaal bly, want dis iets waarna elke leerder jare lank uitsien en dis nie die kind se skuld as ouers nie duur uitrustings kan bekostig nie.
Nog 'n ma wat nie haar of haar dogter se naam wil noem nie, sê sy het 'n vaste begroting wat sy bereid is om op 'n matriekafskeidsuitrusting en bykomstighede te bestee. "Ek het 'n begroting van R5 000, want ek sal eerder belê in my kind se toekoms. Volgende jaar is sy op haar eie en al weet sy nou nog nie wat sy dan wil doen nie, gaan dit nie goedkoop wees nie."
Sy en haar dogter steur hulle ook glad nie aan wat ander matrieks of ma's dink of sê nie. "Ek doen my eie ding. As my dogter iets wil doen of hê, dink ek eers of dit regtig nodig is en hoe dit haar positief of negatief kan beïnvloed. Daar is ouers wat baie geld bestee om die dag vir hul kind perfek te maak, maar wat gaan die ouers doen met die volgende 'perfekte dag' wat nog beter, groter en duurder sal moet wees."
Volgens haar beloop die koste sover: Rok - R1 400; hare, grimering - R550; naels - R350; fotograaf vir een uur - R450; toegang vir 'n paartjie - R900. Die koste vir skoene, juwele en 'n spesiale motor om die matrieks na die venue te vervoer is nog nie bevestig nie. "Solank my kind gelukkig is, is ek gelukkig. Vir my gaan sy die mooiste meisie teenwoordig wees!"
Vroeër jare was dit net die meisies se onkoste vir uitrustings, bykomstighede, naels en hare wat in ag geneem moes word. Matriekseuns was gewoonlik tevrede met 'n gewone pak klere en 'n nuwe paar skoene was 'n bonus. Dis nie meer die geval nie, want seuns se klere, hare- en naelversorging kos deesdae amper net soveel, of selfs meer, as die meisies s'n, vertel 'n ma wat in 2009 'n seun in matriek gehad het. "Ons het gelukkig 'n professionele fotograaf as vriendin gehad en haar geskenk was gratis foto's. Nogtans het die matriekafskeid my 'n stewige bedrag uit die sak gejaag."
Christiaan Ras, 'n modeont-werper, maak onder meer matriekafskeidrokke. "Die duurste is so R5 200, maar ek het per spesiale vergunning 'n betaalplan vir matriekafskeidrokke wat 'n kliënt toelaat om die rok van haar drome oor tyd af te betaal voor die rok die winkel verlaat," verduidelik hy. "Ons probeer die geleentheid skep vir almal om spesiaal te lyk en te voel," sê hy. Dié prys sluit egter geen ekstras in nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'