STILBAAI NUUS - Dit was 'n mooi gesig toe 53 ou motors Saterdag 17 Mei hulle weg gevind het na Lappiesbaai in Stilbaai.
Hulle het gekom van onder andere Kaapstad, Riversdal, Mosselbaai, George en natuurlik ook Stilbaai.
Die Just Wheels Stilbaai OU Kargroep het gasheer gespeel vir hierdie pragtige ou motors en hulle stoutste verwagtinge is oortref met die aantal motors wat opgedaag het vir die saamtrek.
Daar was werklik iets van alles en vir elkeen se smaak, 'n paar DKW's, Ford Capri's, 'n Chevy of twee en talle ander pragtige motors, van 'n statige Jaguar tot 'n Morris Minor.
Belangstellendes het om die motors saamgedrom, terwyl die eienaars 'n heerlike ontbyt by Die Seekombuis geniet het, waarna hulle met hulle motors kom spog het.
Die organiseerders het gehoop vir 20 motors, daar het 53 opgedaag en nou is hulle vuur en vlam om dit volgende jaar veel groter te maak.
Vir enige navrae oor die Just Wheels OU Kargroep kan Johan Beetge gekontak word by 083 725 3790.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’