ALBERTINIA NUUS - 'n Sonderlinge verhaal het 'n mooi uiteinde gehad toe 'n jong vrou van Gauteng besluit om haar voorraad vir 'n kleuterskool aan iemand te skenk.
Volgens Sonette Kotze, 'n begaafde onderwyser wat besig is met die skryf en bemarking van Afrikaanse handboeke het die Here dit op haar hart gelê om haar hele Goggaboks-kleuterskool se voorraad vir iemand te gee.
Dit was meer as R80 000 werd. Deur gebed het sy van Lydia Maree op Albertinia te hore gekom en het sy sommer dadelik vir Lydia met 'n video oproep gekontak om die groot nuus aan haar oor te dra.
"Ek sal nooit daardie verbaasde gesiggie vol vreugdetrane vergeet nie," het Sonette vertel.
Die Goggaboks se trek is na Albertinia en daar was behoorlik gewoeker en gewerk om sy nuwe tuiste gereed te maak om begin volgende jaar sy deure oop te maak. Sonette het spesiaal afgevlieg om 'n paar dae saam Lydia te spandeer met raad en hulp om alles reg te kry, maar ook om sommer net lekker te kuier en deel.
Die twee vroue wat eens vreemdelinge vir mekaar was, het 'n baie besondere pad begin stap. Vir beide was en is dit 'n saak van gebed.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'