Update
HESSEQUA NUUS - Die verkope van nuwe motors is landwyd besig om weer mooi te klim, sê die motorhandelsakeraad Naamsa.
Dit ondanks die "chaos" op internasionale markte weens die Russiese inval in Oekraïne, wat 'n groot inpak het op die vervaardiging en uitvoer van elektroniese motoronderdele.
Kopers het hulle ook nie laat afskrik deur die hoër rentekoerse nie en koop weer fluks nuwe modelle.
Die groot oorstromings in KwaZulu-Natal het natuurlik 'n negatiewe impak op 'n motormaatskappy soos Toyota se verskaffing van nuwe voorraad.
Maar hoe lyk die situasie vir motorhandelaars in Hessequa, en meer spesifiek op Riversdal? Rola Ford en Toyota is die enigste twee handelaars op die dorp en Suid-Kaap Forum het by hulle gaan kers opsteek.
Die vraag is of die verkope van nuwe motors vir die eerste keer sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie weer so hoog was soos in 2019.
Arthur Warner, handelaarshoof van Rola Ford sê met die aanbreek van Covid moes hulle noodgedwonge die tak vir ses maande sluit weens die onsekerheid oor die pandemie. "Ons was in die gelukkige posisie om al ons personeel op hul volle salarisse te hou.
"Uiteraard het ons van die huise af gewerk en het aanlynverkope skerp opgetel.
Van September tot Desember 2020 het ons rekordverkope behaal en was daar geen tekorte aan nuwe en tweedehandse motors nie.
Minder voorraad
"Toe breek Januarie 2021 aan en dis of iemand 'n knoppie afgeskakel het," sê Arthur. "Ons moes met 60% minder voorraad klaarkom, grootliks omdat elektroniese onderdele soos halfgeleiers, wat in China vervaardig word, skielik nie meer beskikbaar was nie.
Dié tendens duur nou al die afgelope 15 maande met feitlik geen nuwe motors beskikbaar nie.
"So is topverkopers soos die Ford Ranger en Ford Everest se profiel aansienlik verklein en het ons verkoopsyfer aansielik gedaal weens beperkte voorraad.
Ons markaandeel het van sowat 32% met 6% geval. Skerp prysstygings in 2020 het sake ook nie vergemaklik nie," sê Arthur.
Hy glo nie hoë rentekoerse sal mense daarvan weerhou om nuwe motors aan te skaf nie, maar baie stel eers uit om te kyk wat maak rentekoerse.
Iets wat wel nuwe verkope kan stimuleer, is die loodsing van die nuwe Ford Ranger Everest, maar dis nou uitgestel na November vanjaar.
"Dis 'n monster van 'n voertuig en ons voorsien dat dit gewild sal wees onder plaaslike kopers. Ons verwag dat die mark eers weer teen April aanstaande jaar na normaal gaan terugkeer."
Henk Louwrens, Toyota se handelaarshoof op Riversdal sê in 2019 het hulle 102% van hul mikpunt behaal net voor Covid-19 sy kloue behoorlik kon inslaan.
"Ons het toe 296 handels- en passasiersvoertuie van die hand gesit. In die 12 maande tot einde Desember 2020 het ons 233 voertuie verkoop, 63 minder as die vorige jaar."
Geen aflewering van nuwe voertuie
Henk sê in die eerste kwartaal van 2021 het Toyota 83 voertuie verkoop. 'n Jaar later, in die ooreenstremmende tydperk in 2022, het 109 voertuie nuwe eienaars gekry. "Dit wys duidelik dat besigheid besig is om kop op te tel. Toe Covid op sy felste was, moes ons die deure vir vyf weke toemaak. Ons kon geen sake doen nie, want daar was geen aflewering van nuwe voertuie nie.
"Gelukkig het ons betyds voorsiening gemaak en is niemand afgelê nie en is volle salarisse uitbetaal."
Henk sê Toyota gaan sy fabriek in Ethekwini ná die oorstomings sluit vir twee maande."Daar sal dus geen voertuie plaaslik aanmekaar gesit word nie. "Om sake te vererger, is daar 'n jaarlange waglys vir die Toyota Landcruiser 300-reeks, wat natuurlik ingevoer word."
Naamsa se statistiek dui daarop dat Toyota steeds koning kraai met verkope. Hy word gevolg deur Volkswagen, met Hyundai in die derde plek.
Vorige artikel: Motorverkope styg, maar voorraad lol
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'