RIVERSDAL NUUS - Die dreuning van enjins, blink chroom en 'n gedeelde passie vir alles op wiele het Saterdag 1 Augustus motorliefhebbers van regoor die Suid-Kaap na Riversdal gelok vir AutoZone se Mad Saturday-promosiedag.
Die geleentheid, wat deur Andrew Stroebel gereël is, het klassieke en moderne motors bymekaargebring met die doel om die liefde vir klassieke voertuie ook onder jonger geslagte aan te wakker.
Motoreienaars van onder meer Ladismith, Zoar, Heidelberg, Albertinia, Stilbaai en Riversdal het met hul voertuie opgedaag en die dag goed ondersteun.
Elke deelnemer, wat met 'n voertuig by die geleentheid aangekom het, het 'n geskenkpakkie ontvang, asook iets te ete en koffie of tee.
Verskeie voertuie is ook in verskillende kategorieë beoordeel, waarna die wenners met pryse beloon is.
Stroebel het sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir die ondersteuning.
Lede van die Just Wheels Sosiale Klub het ook met hul voertuie by die geleentheid kom spog.
Dié klub verwelkom liefhebbers van klassieke motors, hitsmotors (hot rods), bakkies, motorfietse en ander voertuie.
Just Wheels is 'n gemeenskapsgerigte motorklub wat sy oorsprong in die Suid-Kaap het en vandag een van die aktiefste motorgroepe in die streek is.
Die klub is deur Johan Beetge gestig, wat die groep se passie vir motors en sosiale saamtrekke in die Suid-Kaap help vestig het nadat hy van Brakpan na Stilbaai verhuis het.
Die eerste Just Wheels-byeenkoms in die streek is omstreeks 2016 of 2017 by die Lappiesbaai-parkeerterrein gehou.
Uit dié informele byeenkoms het 'n groeiende klub ontstaan wat motorliefhebbers van Hessequa en omstreke bymekaarbring.
Volgens Hugo van Dyk, administratiewe beampte van Just Wheels, is die klub 'n sosiale groep wat een keer per maand bymekaarkom vir 'n kuiergeleentheid of 'n ontbytrit.
"Enigiemand wat 'n passie het vir iets met wiele, is welkom om by ons aan te sluit," het hy gesê.
Just Wheels is in die Hessequa-gebied gevestig en sluit lede van Riversdal, Stilbaai, Heidelberg, Albertinia, Gouritsmond en Witsand in.
Die klub se ritte strek ook langs die Tuinroete en tot in die Klein-Karoo.
Vir meer inligting oor Just Wheels, kontak Hugo van Dyk by 083 686 9237.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’