STILBAAI NUUS - Anastasia de Vries, Afrikaanse joernalis, rubriekskrywer en lektor aan die Universiteit van Wes-Kaapland het tydens die Stilbaai-boekefees sewe van haar studente saamgebring met 'n tweeledige doel.
Eerstens vir praktiese ervaring tydens die boekefees en tweedens om die mense van Melkhoutfontein se geskiedenis op te teken.
Volgens Anastasia behels die skryfprojek die optekening van die geskiedenis van Melkhoutfontein se mense in die taal en woorde en deur die oë van die mense wat onthou en die stories in hul hart en bloed omdra.
Dit is in samewerking met die Departement Afrikaans en Nederlandistiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland en die sewe studente gedoen.
Ná afloop van die boekefees op Sondag 26 Februarie, het Anastasia en haar studente by Albert en Christel Cloete in Melkhoutfontein aangedoen waar Christel en haar twee susters, Jackie en Catherine, met hul mans 'n tafel voorberei het, kreunend onder die heerlike eetgoed. Christel het van die oudste inwoners van Melkhoutfontein genooi om hul herinneringe rondom die reusetafel te deel.
Die studente kon op 'n informele wyse opgelei word om uiteindelik hul eie gemeenskappe se geskiedenisse op te teken, maar eers die geskiedenis van Melkhoutfontein waarmee die studente mense van dié plek sal help.
Onder die lieflike sang van die jonge Alicia is dit openbaar; dat van die jongmense van Melkhoutfontein saam met die studente opgelei word om hul eie stories te skryf as deel van 'n ontwikkelingsprogram wat verder uitgebrei kan word.
Anastasia sê dat meer opvolgbesoeke sal volg om selfvertroue te versterk en hegter bande met Melkhoutfontein se mense te smee.
Hulle kom terug om hulle taak te volbring om die geskiedenis van Melkhoutfontein se mense te boekstaaf en hulle sigbaarder en die geskiedenis onvergeetlik te maak, vir hulself en veral hul nageslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’