RIVERSDAL NUUS - Leigh Quine Valtyn het op Saterdag 15 Augustus die skool se naam hoog gehou deur ’n uitstekende tweede plek in die Wes-Kaapse provinsiale besigheidstudies aanlyn vasvra te behaal.
Die kompetisie is by Oude Molen Tegniese Hoërskool in Pinelands, Kaapstad, aangebied en het die provinsie se beste gr. 12-besigheidstudiesleerders die geleentheid gebied om hul kennis en begrip van die vak te toets.
Leigh Quine het teen die top-65 in die Wes-Kaap meegeding en met sy indrukwekkende prestasie homself onder die provinsie se voorste deelnemers gevestig.
Die vasvra het die volledige gr. 12-besigheidstudieskurrikulum gedek en deelnemers moes oor ’n omvattende kennis van die vak beskik, terwyl hulle vrae vinnig en akkuraat moes beantwoord.
Sy tweede plek op provinsiale vlak is ’n besondere prestasie en getuig van sy harde werk, toewyding en deeglike kennis van besigheidstudies.
Leigh Quine se prestasie is ’n bron van groot trots vir die skool en sy gemeenskap. Hy het die skool met onderskeiding verteenwoordig en gewys waartoe harde werk en toewyding kan lei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’