HESSEQUA NUUS - Terwyl baie gesinne die Paasnaweek saam deurgebring het, het lede van beskermingsdienste en die polisie hul eie families agtergelaat om lang ure aan diens te wees en veiligheid op die paaie te verseker.
Hul opoffering, saam met verhoogde sigbare polisiëring, het bygedra tot 'n merkbare afname in padsterftes.
Volgens Hessequa-munisipaliteit se woordvoerder, Dulkerine Budericks, het die naweek reeds op 2 April op 'n hoë noot afgeskop met 'n padveiligheidsinisiatief langs die N2.
Verskeie rolspelers en nooddienste was teenwoordig, en motoriste is met paaseiers en geskenkpakkies verwelkom.
Belangrike padveiligheidswenke is gedeel en motoriste was aangemoedig om geduldig te wees, veilig te bestuur en die padreëls te gehoorsaam.
Ten spyte van hoë verkeersvolumes, is daar slegs etlike ernstige insidente binne die Hessequa-munisipale gebied aangemeld.
Verkeersdienste se sigbaarheid en geteikende optrede in hoërisiko-areas het 'n positiewe impak gehad, met 'n daling in padsterftes van 14 % op munisipale roetes.
Wes-Kaap
Provinsiale verkeersbeamptes het 44 555 voertuie gestop en gekontroleer en 149 arrestasies uitgevoer, waarvan 108 vir bestuur onder die invloed van alkohol was.
Twee motoriste is in Citrusdal en Worcester in hegtenis geneem vir beweerde omkopery, terwyl 'n bestuurder naby Laingsburg ook gearresteer is vir onder meer aanranding van 'n verkeersbeampte en verset teen arrestasie.
Altesaam 19 mense het hul lewens op die provinsie se paaie verloor, teenoor 22 in dieselfde tydperk verlede jaar.
Voetgangers en passasiers bly egter die kwesbaarste padgebruikers.
Volgens die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, toon die afname dat strenger optrede en beter gedrag 'n verskil maak.
Daar was ook 'n daling van 36,1% in dronkbestuur-arrestasies.
Verkeersowerhede het verder 293 onpad-waardige voertuie van die pad verwyder en
1 778 ongelisensieerde voertuie geïdentifiseer.
Ten spyte van uitdagende weerstoestande het operasies voortgeduur, met hommeltuie wat ingespan is om verkeer en voetgangers te monitor.
Owerhede waarsku dat spoed, roekelose bestuur en alkoholgebruik steeds groot risiko's inhou en doen 'n beroep op padgebruikers om verantwoordelik op te tree.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’