SLANGRIVIER NUUS - Die Loving Shepherds-Kersfeeskoor het onlangs aan hul huidige, vorige, asook ontslape lede erkenning vir hul bydrae tot die koor gegee.
Die verrigtinge het in die plaaslike gemeenskapsaal plaasgevind.
Onder die nagenoeg 120 aanwesiges, was die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles wat as gasspreker opgetree het, Jennifer Hartnick, DA-distriksraadslid, asook Gert Boezak, voorsitter.
Die verrigtinge is deur past. Jabe Hoogbaard met skriflesing en gebed geopen.
Anneline Kistoor, sekretaris, het die verwelkoming gedoen met Boezak wat as seremoniemeester opgetree het.
Die bedankings is deur Cecil Alberts, ondervoorsitter behartig. Riddles het vir Boezak en sy bestuur bedank vir hul bydrae tot die opbou van die gemeenskap. "Dis goed om soveel jeugdiges in die koor te sien." Hy het die jeugdiges aangemoedig om hul drome na te streef en nooit ophou droom nie.
Hy het na sy eie lewe verwys as bewys dat drome bewaarheid kan word. Hy het egter gemaan dat sukses nie maklik kom nie en dat daar hard gewerk moet word om hul drome te laat realiseer.
Riddles het die seniors bedank vir hul deursettingsvermoë in swaar tye.
"Was dit nie vir julle vasberadenheid nie, sou die koor sekerlik nie meer bestaan het nie. Baie dankie vir jul onbaatsugtige bydrae oor die jare."
Hartnick het veral die jeug aangemoedig om ten volle van die geleenthede wat aan hulle gebied word, gebruik te maak.
"Julle het baie talente, maar talente baat niks as jy nie goeie maniere het nie. Twee dinge staan uit as jy sukses wil bereik, en dit is om respek en dissipline as deel van jou mondering te hê," het sy benadruk.
Boezak het sy dank teenoor Riddles, Hartnick en die ander rolspelers uitgespreek voor hy die sertifikate aan die lede en familie van die afgestorwenes oorhandig het. Altesaam 43 sertifikate is oorhandig.
Die aanwesiges is met heerlike versnaperings en goeie musiek deur die jong musikante, onder leiding van Victor Edom, bederf.
Van links is Michaels Phillips (erepresident, 55 jaar), Jennifer Hartnick, rdl. Grant Riddles, Gert Boezak (voorsitter), David Esau (trustee, 29 jaar) en Pieter Kistoor (president, 54 jaar diens). Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
Die bestuur van Loving Shepherds Kerskoor is van links David Esau (trustee), Michael Phillips (erepresident), Gert Boezak (voorsitter), Cecil Alberts (ondervoorsitter), Klara Hoogbaard (kassier), Tercia Hoogbaard (onderkaptein), Anthony Hanker (kaptein), Anneline Kistoor (sekretaris) en Pieter Kistoor (president).
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'