HEIDELBERG NUUS - Kairos Sekondêr was Saterdag 18 April die spilpunt van opwindende aksie toe sowat 80 entoesiastiese leerders van 15 spanne aan ’n Wes-Kaapse interskole pluimbaltoernooi deelgeneem het.
Spanne van regoor die streek het hul staal gewys, met vier uit Kaapstad, twee van Stellenbosch, een van die Paarl, asook plaaslike deelname van vier spanne van Kairos, twee van Gerrit du Plessis en twee van Stilbaai.
Die dag is gekenmerk deur goeie sportmanskap en mededingende wedstryde.
Die toernooi is onder die bekwame leiding van Johan en Ursula van Huyssteen van Stilbaai aangebied.
Ursula, Eden-distrik se pluimbalontwikkelingsbeampte, het beklemtoon dat die sport besig is om geleidelik veld te wen, veral in die Hessequa-streek.
Volgens haar toon die groeiende deelname en entoesiasme onder jong spelers dat pluimbal ’n belowende toekoms in die streek het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’