STILBAAI NUUS - 'n Klein kennisgewing in Suid-Kaap Forum van 24 September waarin die Stilbaai-gemeenskap uitgenooi word na 'n vergadering rakende Julie-se-Baai, het goeie reaksie uitgelok.
Meer as 80 inwoners het Maandagaand, 27 September in die gemeenskapsaal bymekaargekom om na twee voorstelle te luister vir die ontwikkeling van dié oord.
Die voorstelle was van twee verskillende ontwikkelaars vir twee heeltemal verskillende ontwikkelings.
Hierdie grond is klaarblyklik in 1962 deur 'n boer gratis aan die munisipaliteit oorgedra. Dit word tans as 'n kampterrein in Desember gebruik en is veral gewild tydens die jaarlikse Touchies-toernooi.
Izak Venter, wat geen bande met enige van die ontwikkelaars het nie, het die vergadering fasiliteer en het met tye sy hande vol gehad met veral ongelukkige inwoners.
Eerste aan die woord was Anton Pieterse, plaaslike besigheidsman. Sy voorgestelde ontwikkeling behels 'n bootwinkel, boot diensplek, onderdak boot stoorplekke en 'n museum met die geskiedenis van vissermanne en spesifiek Julie-se-Baai.
"Die winkel en museumgebou sal in die vorm van 'n boot wees en die hele ontwikkeling sal met die ekologie en estetiese sy van die saak in gedagte gedoen word," het hy gesê.
Volgens hom is daar geen tweedehandse bootwinkel tussen Gordonsbaai en Knysna nie en hierdie ontwikkeling sal daardie gaping vul. Ander voordele sluit in werkskepping en geld wat in Stilbaai spandeer sal word.
Julie se Baai wat reg voor Stilbaai se ingang aan die linkerkant geleë is, is dalk vir groter dinge bestem as kampplek vir vakansiegangers in Desember.
Hy het ook 'n huurtydperk van ongeveer 10 jaar voorgestel. Jan Heenop se ontwikkeling, wat ook met die ekologie en estetiese waardes in gedagte ontwikkel sal word, is 'n konferensie en opvoedkundige fasiliteit waar kursusse soos byvoorbeeld vir lewensredding aangebied kan word en 'n glamping-gedeelte.
"Vir glamping, wat kampering in luukse tente of eenhede is, beoog ons tussen 10 tot 15 eenhede," het hy verduidelik.
Die kursusse kan tussen 40 tot 60 mense hanteer op 'n slag en dit kan wees dat vakansiegangers gedurende vakansietye die fasiliteit gebruik. In die wintermaande kan kursusgangers en konferensiegangers dit byvoorbeeld gebruik. Daar sal geen permanente inwoners wees nie. Heenop stel weer 'n huurtermyn van ten minste 25 jaar voor.
Albei ontwikkelings sal aan verkeers-, erfenis- en omgewings-impakstudies onderwerp word indien dit goedgekeur word. Die gemeenskap het tyd tot 29 Oktober om skriftelike besware by Albert Kleynhans by die munisipale-kantore in te dien of per epos na albert@hessequa.gov.za te stuur.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Tuinroete nuus'