RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal-jukskeiklub was Saterdag soos ’n miernes van bedrywighede toe 24 jukskeispanne van regoor die Wes-Kaap mekaar die stryd aangesê het tydens ’n gedenktoernooi vir die legendariese jukskeispeler, Dolf Barnard.
Meer as honderd gesoute spelers het van vroegoggend tot laatmiddag op die baan gekompeteer in ’n dag wat gekenmerk is deur ernstige spel, maar ook ’n gesellige sosiale nadraai.
Jakes Basson, president van Wes-Kaap Jukskei, het aan Suid-Kaap Forum gesê dat die organisasie gefokus is op die bevordering van jukskei onder jong spelers.
“Dit is een van die min sportsoorte waar ’n kleinkind en ’n oupa saam in dieselfde span kan speel,” sê Basson.
“Ons wil hê dat hierdie unieke, interaktiewe en kulturele spel vir die land bewaar bly.”
Belangstellendes wat by die Riversdal-jukskeiklub wil aansluit of meer inligting verlang kan die klub se voorsitter, Jan van Dyk, by 082?966?3018 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’