HESSEQUA NUUS - Maskers het gekom om vir 'n hele ruk lank te bly.
Volgens pres. Cyril Ramaphosa sal die einde van formele inperking beslis nie die einde van voorkomingsmaatreëls soos sosiale afstand, handreinigers en gesigmaskers in die openbaar beteken nie.
Hy reken ons moet vrede met 'n nuwe samelewingsorde maak. Alle politieke praatjies nou op 'n stokkie, want wanneer mens kyk na al die 'bekende vreemdelinge' wat jou van agter 'n masker groet, hét dinge inderdaad reeds verander.
Maskers het amper soos die ridders van ouds se swaarde geword: "Die draak van 'n virus sal my nie onderkry met dié wapen in my arsenaal nie!" Dit het deel van ons sielkundige harnas teen die onsekerheid en bangmaakstories van die 'nuwe normaal' geword.
Dit was net 'n kwessie van tyd voor modeontwerpers 'n nuwe geleentheid raaksien om munt uit ons ydelheid te slaan. As mens dan nou gepantser moet wees, kan jy dit net sowel in styl doen, reken hulle.
In stede soos Bangkok wat elke dag verstikkende lugbesoedeling beleef het, eksperimenteer modeghoeroes reeds lankal met maskers. Handgemaakte meesterstukke uit hul winkels kos meer dollars elk as wat meeste van ons in 'n maand verdien.
Die neiging begin stadigaan in Suid-Afrika posvat. Daar is vrolike en selfs lawwe maskers, daar is ernstige maskers wat boodskappe oordra en dan is daar modemaskers.
Ontwerpe wissel van ensemble-items wat die res van die uitrusting komplementeer, tot aandagtrekkers vol kristalle en rynstene. Die filosofie hieragter is dat maskers 'n storie oor die draer moet vertel, eerder as om identiteit te verbloem. Dit loop dieselfde pad as wat klere soos jeans en langbroeke vir vrouens gevolg het - iets wat noodsaaklik in die algemene werksomstandighede was, het 'n modelewe van sy eie gekry.
Hier is 'n geleentheid soos min vir ontwerpers in Hessequa. Van etnies tot Eurosentries, die wêreld is in jou masker opgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'