HESSEQUA NUUS - “Die Hessequa-munisipalititeit is korrup!” Aldus die gemeenskapsaktivis Alexander Panzek.
Die donkerste, digste smoorwolk van verleentheid word minagtend oor dié munisipaliteit aan die ongerepte natuurvoet van die pragberg Die Slapende Skoonheid gesmyt.
Die streek se inwoners beskou dit as ‘n bliksemstraalslag, wat vertroue verbrand en geloof skroei.
Panzek het, in samewerking met Robert Duigan, die redakteur van die onafhanklike aanlynkoerant The Cape Independent, deeglike navorsing gedoen om tot dié gevolgtrekking te kom. Die ontstellende onthullings is op die sosiale netwerk Facebook onder Panzek se "Stop-the-rip-off"-aanlynbeweging gepubliseer.
“Die aantygings oor die sogenaamde ‘kultuur van wetteloosheid’ is van alle waarheid ontbloot. Dit is lasterlik!” het Didi Budricks, die munisipaliteit se hoofskakelbeampte, in ‘n dokument van nagenoeg 1 300 woorde bevestig. Dié verklaring is deur die speaker, Tinus van den Berg, uitgereik.
Die munisipaliteit ontken alle bewerings van knoeiery ten op sigte van behuisingtoekennings, korrupte uitkontraktering, ongerymdhede by die verkeersafdeling en ‘n gepeuter met elektrisiteitsmeters.
Volgens die Panzek-dokumentasie het miljoene rand van die belastingbetalers net "verdwyn, verlore geraak" of is dit verdoesel - hoofsaaklik weens die wanbestuur van amptenare wat ná munisipale mislukkings elders by die Hessequa-munisipaliteit ontplooi is.
Die dokumente bewyfel ook die akademiese geskiktheid van verskeie amptenare, die afdanking en verwydering van regmatige fluitjieblasers en ‘n kommerwekkende kultus van boeliegedrag.
* Suid-Kaap Forum stel verdere ondersoek in en gaan vrae rakende die skerp aantygings aan die munisipaliteit rig om antwoorde te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’