Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Fondsinsamelingsgeleentheid op Vrydagaand, 29 Julie, ten bate van Huppelland-kleuterskool het goeie vrugte afgewerp.
Die kleuterskool is vanjaar 36 jaar oud en die gebou het heelwat aandag nodig. Die geleentheid is in samewerking met Woes-TV, 'n interaktiewe program wat regstreeks aanlyn gestroom word, aangebied.
"Hulle help skole en instansies met fondsinsamelings deur 'n zero risiko platvorm te bied," verduidelik die skoolhoof, Irma Kemp.
Huppelland het in Desember 2020 vir die eerste keer saam met Woes-TV gewerk en 'n aanlyn fondsinsameling gehou, omdat dit in die inperkingstyd was. "Ons het hulle weer genader om saam met ons te werk en hierdie keer het die hele Woes-span na Albertinia toe gekom."
Om die kostes te help dek het Huppelland besighede in Albertinia genader en verskeie pryse ontvang waarmee 'n aanlyn veiling gehou is. "Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ons van die besighede, asook die burgemeester, Grant Riddles, asook privaat persone gekry het."
Die voorprogram is deur Hansie Kruger van Albertinia behartig, wat ook 'n paar liedjies gesing het.
Die sanger en storieverteller, Wicus van der Merwe het met sy pittige sêgoed en liedjies die gaste aan die sing en dans gehad.
Ten spyte van die ligte reën op die plaas waar die optrede gehou is, het die gaste die weer trotseer om die aand by te woon.
"Ons as kleuterskool waardeer almal se ondersteuning en sien daarna uit om die skool 'n nuwe baadjie in 2023 te gee," het Kemp afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'