HEIDELBERG NUUS - 'n Sesjarige seuntjie van Suurbrak is Saterdagmiddag 11 September noodlottig beseer toe die bakkie waarin hy en sy pa op die Rietkuilpad net buite Suurbraak gereis het, omgeslaan en gerol het. Hulle was oppad huistoe nadat sy pa, 'n opkomende boer, sy canola-plantasie gaan spuit het.
AJ Louw, 'n graad 1 leerder aan Heidelberg Primêr, het op die toneel, sowat 5km vanaf hul huis, gesterf nadat sy pa, Chris, blykbaar beheer oor sy Toyota Hilux op die grondpad verloor het.
AJ het vermoedelik deur die voorruit geval toe die bakkie gerol het.
Volgens sy diep bedroefde ma, Marda, het AJ, haar en Chris se laatlammetjie, haar enkele minute voor die ongeluk nog van sy pa se selfoon gebel om te sê hulle is oppad en dat sy die kos moet reghou.
Kort daarna het sy 'n oproep ontvang dat Chris en AJ in 'n ernstige ongeluk was.
Sy het haar na die toneel gehaas waar sy haar kind in haar arms geneem het.
AJ het nog geleef.
"Ek het hom vasgehou en gehoop dat 'n ambulans so gou mootlik sou kom. Dit was egter nie gou genoeg nie en hy het by my gesterf," het sy snikkend vertel.
AJ Louw
Sy het gesê die wag het soos 'n ewigheid gevoel voor paramedici op die toneel aangekom het. Chris het sy bors en ribbes beseer en is na die hospitaal op Worcerster geneem. Hy is intussen ontslaan.
Chris is platgeslaan deur sy seun se dood en volgens Marda is haar man se hart baie seerder as enige van sy borsbeserings.
Ondersoekbeampte konst. Roxanne Marais sê hulle het die klagte net na 13:00 ontvang. 'n Klag van strafbare manslag word ondersoek.
Die begrafnisdiens vind Saterdag, 18 September on 09:00 aan huis by Hoofweg 89 plaas en daarna vanuit die VG Kerk op Suurbraak om 10:00.
Die beplande diens is die afgelope Donderdag laatmiddag voorafgegaan met 'n ererit verby AJ se ouerhuis.
AJ het vermoedelik deur die vooruit geval toe die bakkie gerol het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'