HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike landdroskantoor het weer 'n permanente landdros tot hul beskikking na die skielike heengaan verlede jaar van Michael Delport, wat die pos vir ongeveer 24 jaar beklee het.
Brenda Roodt, boorling van Johannesburg is sedert 1 Desember as landdros hier aangestel.
Roodt, wat meer as 25 jaar diens by justisie het waarvan 10 jaar as aanklaer en 15 as landdros, was vir die afgelope agt jaar op Kimberley gevestig.
Sy het haar studies destyds aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), nou bekend as Universiteit Johannesburg (UJ) voltooi.
Volgens Roodt het sy sedert haar kinderdae al daarvan gedroom om 'n loopbaan in regte te volg.
Sy is reeds met die Suid-Kaap bekend waar sy verskeie poste op Mosselbaai, Oudtshoorn en Beaufort-Wes beklee het.
Sy het haar eerste pos as landdros in Kaapstad beklee, waar sy die hoof van 'n hoë profiel eenheid was wat hulle toegespits het op die bekamping van seksuele misdade wat kinders via verskeie sosiale netwerke geteiken het.
Sy het 'n wye kennis van forensiese seksuele aanranding, pornografie, asook bendeverwante ondersoeke.
Sy het haar in laasgenoemde aspekte deur die VSA departement van justisie bekwaam.
Roodt noem dat sy graag 'n verskil in die gemeenskap wil maak deur veral wedersydse respek te bewerkstellig.
"Ek voel al redelik tuis in my nuwe omgewing, waar ek dan ook beplan om hopelik af te tree," sê sy.
Haar eggenoot is 'n adjudant-offisier in die polisie in Kimberley en sy kan nie meer wag dat hy sy oorplasing kry nie.
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'