Update
HESSEQUA NUUS - Het jy ook kosrakke wat bult staan van voorraad, maar wonder of alles gesond is om nou te eet?
Volgens dieetkundiges is nou ’n goeie tyd om kos as deel van jou mondering vir ’n sterk immuunstelsel te begin sien, eerder as ’n kruk om emosies te verwerk.
Gewigsverlies moet beslis ook nie nou bo aan jou lys van doelwitte staan nie.
Hoewel dit moeiliker mag wees om vars groente en vrugte te koop, kan gevriesde weergawes en slim keuses in blikkieskos net so voordelig wees. Gebruik peulgroente soos boontjies en lensies wat vol proteïne en vesel is, om bredies te rek. Koop vir ’n slag bruin rys of pasta. Geblikte tamaties en goeie gehalte tamatiepasta is gesonde staatmakers om geur aan kos te gee. Vis wat heelwat olie bevat soos makriel of tuna sal help om liggaam en brein flink te hou.
Oor-geprosesseerde kos is nooit goeie nuus vir immuunstelsels nie. Kies blikkieskos wat so na as moontlik aan natuurlik geblik is.
As wegneemkos altyd eerste op die lys was, kan ’n onkeerbare drang na slap chips geflous word deur patatskyfies met olie te bedruip en in die oond te bak. Hou ook ’n paar gevriesde pizzabasisse byderhand om met gesonde byvoegings ’n vinnige ligte ete bymekaar te sit.
Vir peusel tussen maaltye is gedroogde vrugte, neute of grondboontjies verkieslik bo lekkers of beskuitjies.
Ander wenke
- Besluit op tye vir maaltye en hou daarby. As daar struktuur in die dag is, sal hongerpyne nie kort-kort jou konsentrasie breek nie;
- Betrek kinders by die voorbereiding van maaltye en laat hulle ook idees gee;
- Dink oor jou kos terwyl jy eet en geniet elke mondvol;
- Kou deeglik sodat jou maag nie so hard hoef te werk om groot stukke kos te verwerk nie;
- Moenie vergeet om genoeg water te drink nie.
Vorige artikel: Eet gesond en bly gesond
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'