HESSEQUA NUUS - Fietsry is die beste oefening vir lyers van Parkinson se siekte.
Om die feit te beklemtoon, het drie lyers en hul ondersteuners Maandag 4 Maart uit Swellendam weggespring op 'n fietstoer van sowat 280 km oor vier dae tot by die Kaapstad-stadion.
Die fietstoer is 'n inisiatief deur Parkinson-lyers Reenen Barry van Calitzdorp en Lourens van Vuuren, voorheen leraar by NG Gemeente Heidelberg, wat nou in Mosselbaai woon.
"Die doel met die fietstoer was om die boodskap uit te dra dat Parkinson se siekte effektief bestry kan word deur oefening, veral op 'n fiets, want fietsry doen wondere vir 'n lyer se balans," het Barry gesê.
Volgens Briëtte Barry, sy vrou, het sewe fietsryers, onder hulle drie lyers en vier ondersteuners, Maandag tot by Silwerstrand naby Robertson gery. Nie al die deelnemers het heelpad gery nie. Lourens het Dinsdag net gedeeltes van die roete na Rawsonville gery. Reenen en 'n ou skoolmaat Piet Rootman, het Woensdag met 'n tandemfiets gery. Sy seun Reenen Junior het ook saamgery na Klapmuts, waar hulle Woensdagaand geslaap het. Donderdag is hulle verder na Kaapstad. Die naweek het Reenen en Piet deelgeneem aan die Cape Town Cycle Tour (voorheen die Argus) deelgeneem.
Volgens Briëtte het Reenen, 'n prokureur, 12 jaar gelede op die ouderdom van 51 Parkinson se siekte begin kry. "Hy het 'n tremor in sy linkerhand ontwikkel en sy gesigsuitdrukking het verstrak. Hy het voor die tyd al fietsgery en net daarmee aangehou. Hy is baie positief en sy motto is: 'Parkinson's is not an illness, it is just a nuisance'." Volgens haar is Reenen se broer Danie en sy suster Cecile albei lyers.
Lourens was 'n dominee in die NG Gemeente Heidelberg voordat hy vier jaar gelede op die ouderdom van 53 met die siekte gediagnoseer is. "Dit het sy spraak en die volume van sy stem aangetas, en mettertyd het die linkerkant van sy gesig verstrak en sy linkerhand het verswak," vertel Lena.
Wat is Parkinson se siekte?
Dit kan beskryf word as 'n degeneratiewe siekte van die breinselle. Dit kom gewoonlik by mense wat ouer as 50, maar meestal ouer as 60 voor. Feitlik dubbel soveel mans as vroue word geraak.
Behandeling
Die oorsaak van die siekte kon nog nie presies vasgestel word nie, maar genetika en moontlik toksiese stowwe kan daartoe bydra. "Ons, wat met die kruis van Parkinsons saamleef, deel uit ons ervaring dat daar geen beter of goedkoper medikasie is as gereelde oefening as sinvolle behandeling nie," aldus Barry.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'