Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die bestuurder van die voertuig wat Saterdag 21 September 'n kind op die Kruisrivierpad getref het, was Woensdag 25 September teen druktyd nog nie aangekla nie.
Volgens konst. Venia Daries, polisiewoordvoerder, word 'n saak van strafbare manslag teen die vrou wat agter die stuur van die donkergrys Toyota-bakkie was ondersoek.
Hoewel dit nie seker is wat presies gebeur het nie, het die voertuig sowat 5 km buite die dorp oor 'n blinde hoogte gekom. 'n Groep kinders was blykbaar in die middel van die pad.
"Die bestuurder het vir 'n kind op 'n fiets uitgeswenk, maar 'n ander kind op 'n fiets getref. Die kind is op die toneel dood," het Daries aan Suid-Kaap Forum by navraag gesê.
Die bakkie het in 'n bos langs die pad beland. Op die toneel was twee swart tekkies weerskante van die pad en 'n blou kinderfiets in die gras stom getuienis van die tragedie wat hier afgespeel het. Die bakkie het op die skouer van die pad gestaan.
Stukkies aalwynblaar het in een van die openinge aan die regtervoorkant van die bosbreker vasgesit. Dit het ondertussen op sosiale media aan die lig gekom dat nog 'n vrou saam met die bestuurder in die voertuig was. Al het sy haarself op Facebook identifiseer, mag die koerant nie name noem voor iemand aangekla is nie.
Kyk 'n video hieronder:
Die vrou het op Facebook haar spyt oor die voorval teenoor die kind se familie uitgespreek.
"Ek wil net jammer vir die familie sê en toe ek daai kind optel dit my gebreek ek jammer ek weet nie hoeveel keer moet ek jammer sê nie ek jammer sterkte aan die familie," skryf sy.
'n Simpatieke inskrywing wat daarop gevolg het, lui: "Dis moeilik maar ek glo God sal in beide jou en die seuntjie se familie se harte die seer stadig maar verseker verlig sterkte en dankie dat jy brave is om jammer te sê asook jouself bekend gemaak het dit sal beter gaan, ek weet jy voel dit saam met die familie sterkte."
Lees 'n verwante artikel: Kind noodlottig in ongeluk beseer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'